Die familie van ’n man wie se liggaam verlede week in makabere omstandighede langs ’n pad in Belhar gevind is, het hom glo nou uitgeken.
’n Been is verlede Dinsdag deur ’n verbyganger langs Symphonyweg in Belhar gevind, waarna hy die polisie ontbied het. Die res van die liggaam, met veelvuldige steekwonde, is in ’n oop stuk veld naby Erica-rylaan gevind.
TygerBurger weerhou die oorledene se naam omdat dit nog nie seker is of sy uitgebreide familie van sy heengaan bewus is nie.
’n Betroubare bron, wat uit vrees vir vergelding verkies om anoniem te bly, sê die familie van die slagoffer is geskok oor die wreedheid van die moord op hul geliefde.
“Sy suster het hom aan ’n tatoeëermerk van sy kind se naam uitgeken. Daar was ook ander bekende goed waaraan hy uitgeken is,” sê die bron.
Hoewel daar aanvanklik vermoed is dat die oorledene raakgery is, sê die bron medici op die toneel het aangedui dat sy bene afgekap is en dat hy met ’n skerp voorwerp gesteek is. “Hierdie is reeds die vyfde moord in die laaste twee weke in Belhar en is vermoedelik die gevolg van ’n bende-oorlog wat woed oor afsetgebiede vir dwelms. Die inwoners lewe in vrees en is dus te bang om na vore te kom uit vrees dat hulle volgende gaan wees.
“Hierdie bendes is ongenaakbaar en sal nie skroom om enigiemand wat hulle teenstaan uit die weg te ruim nie. Die gemeenskap lewe in vrees en al het hulle iets gesien, is die kans skraal dat hulle daarmee vorendag sal kom,” sê die bron.
Teen druktyd is niemand nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie en die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om hulle met die ondersoek te help.
Mense met wenke wat kan help in die ondersoek, kan die Stop Misdaad-nommer 08600 1011 skakel.





