Die vermeende rower, wat verlede week in verband met die rooftog op ‘n hoogswanger vrou, haar man en hul tweejarige kleuter in die Bellville-landdroshof moes verskyn het, was egter steeds in die hospitaal vir behandeling nadat hy glo in ‘n skermutseling met sy aankeer beseer is.
Die gesin is op Sondag 6 Julie omstreeks 16:30 by die hek van hul woonkompleks in Durbanville deur ‘n gewapende man beroof. Die man het ‘n pistool, wat later geblyk het ‘n gaspistool te wees, op hul kleuter gerig en gedreig om die kind te skiet as die ma nie haar selfoon oorhandig nie. Die ma het haar selfoon eenkant gegooi om hom van hulle af weg te kry en toe die vermeende rower omdraai om dit op te tel, het haar man hom platgeduik.
Die vrou, wat ses maande swanger, is, het hard om hulp gegil en twee mans van die kompleks het hulle te hulp gesnel en die rower met kabelbinders vasgemaak.
Die rower het ook ‘n knipmes en skroewedraaier by hom gehad. ‘n Tikpyp is ook by hom gevind.
Rower in hospitaal
Haar man moes steke ontvang vir ‘n kopwond nadat die rower hom met die vuurwapen oor die kop geslaan het, het die vrou aan TygerBurger gesê.
Volgens die slagoffers het die polisie aan hulle gesê die vermeende rower was ongeveer twee dae in die hospitaal vir behandeling. Die verdagte, van Morningstar, sal glo vandeesweek in die Bellville-landdroshof vir ‘n borgtogaansoek verskyn.
Polisie wyd veroordeel
Die Durbanville-polisie het volgens omstanders eers ‘n uur en ‘n half later by die misdaadtoneel opgedaag om die vermeende rower in hegtenis te neem – glo omdat ” ‘n voertuig nie beskikbaar was nie”. Die voorval het egter slegs 400m van die polisiekantoor af plaasgevind – volgens Google Maps slegs ses minute se stap. Dié traagheid is verlede week deur inwoners van Durbanvillewyd op sosiale media veroordeel.
Die Durbanville-polisie het verlede week by navraag nie betyds vir publikasie kommentaar gelewer nie. Lt-kol. Malcolm Pojie, die bevelvoerder van die polisie se provinsiale mediakantoor, het intussen reageer en laat blyk dit is “voortydig om daarop (TygerBurger se navrae) te reageer”, aangesien die “diensleweringsklagte eers ondersoek moet word”.




