Luidens die jongste misdaadstatistieke het kontakmisdaad, waaronder moord, aanranding en verkragting, in Brackenfell met 23% gestyg.
Die statistieke vir die vierde kwartaal van die huidige boekjaar toon misdade wat tussen Januarie en Maart in die voorstad aangeteken is.
Altesaam 107 kontakmisdade is in dié tydperk gepleeg.
In die tydperk is vyf moorde gepleeg – drie meer as in die vorige jaar, waarop drie arrestasies gemaak is. Dit word tans deur die Brackenfell-polisie en bende-eenheid ondersoek.
Daar is 55 sake van aanranding aangemeld – 21 meer as in die vorige jaar; en 22 sake van roof (ses gevalle meer).
Altesame 11 sake van seksuele misdrywe is aangemeld, waaronder sewe verkragtings.
Kol. Patrick Jacobs, waarnemende stasiebevelvoerder, sê baie seksuele misdrywe, waaronder huishoudelike geweld, word nie by die polisie aangemeld nie.
“Slagoffers van seksuele misdaad is bang om dié sake aan te meld om verskeie redes.
“Die misdaad self is baie traumatiserend, en om na die tyd dan in die hof te getuig nog meer so, veral as die verdagte bekend is aan die slagoffer.”
Jacobs sê dat ’n voortgesette bewusmakingsprogram deur die polisie meer aanmeldings tot gevolg het.
Eiendomsmisdaad daal
Eiendomsmisdaad toon ’n algehele afname van 17,3%. In die kwartaal is 67 huisbrake en 23 besigheidsinbrake aangemeld.
Daar was ook drie huisrooftogte, 14 besigheidsrowe, twee motorkapings en ’n vragmotorkaping. Met 49 voorvalle gerapporteer, het diefstal uit motorvoertuie met 35% gedaal, en die 19 sake van motordiefstal het ’n afname van 18% getoon.
Jacobs sê die afname in eiendomsmisdaad is gerusbarend en meerendeels te danke aan vennootskapspolisiëring.
“Maar dit kan ten enige tyd verander en as gemeenskap moet ons waaksaam bly en proaktief optree.
“Vennootskapspolisiëring vermenigvuldig die polisie se kapasiteit en daarom moet die bande tussen die polisie en gemeenskap sterk bly,” sê hy.
Verder is 11 dronkbestuurders in dié tydperk in hegtenis geneem.
Jacobs sê daar is meer aandag geskenk aan onwettige taxi-operateurs weens klagtes uit die gemeenskap oor onwettige roetes.
“Daar is egter planne in plek gestel om dronkbestuur in die nuwe kwartaal te bekamp,” sê Jacobs.
Daarbenewens, het kommersiële misdaad bly toeneem met 115 aangemelde sake – ’n syfer wat sedert 2020 met die aanvang van die pandemie ’n toename getoon het. Ook winkeldiefstal het met 68 aangemelde sake met 19% gestyg.





