Terwyl verkeersopeenhopings in Brackenfell Boulevard ’n ernstige probleem bly, is daar tans geen planne om Brackenfell-boulevard of die N1-brug op dié roete te verbreed nie.
Op ’n medianavraag aan die Stad Kaapstad oor die kwessie, sê Rob Quintas, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, die beplande verbeterings van die N1-snelweg wat deur Sanral onderneem is, en die uitbreiding van die R300 noordwaarts, sal wel verkeersvloei in die gebied verbeter.
“Die herverdeling van verkeer sodra die projekte voltooi is, sal dan ook verkeersopeenhoping op die aangrensende padnetwerke verbeter,” sê Quintas.
Volgens hom het die Stad meer as R543 miljoen begroot vir projekte om verkeersopeenhopings op paaie oor die volgende drie boekjare – vanaf 1 Julie 2023 – te verlig.
Groot projekte is reeds aan die gang met die verdubbeling van Jip de Jagerweg in Bellville, die beplande uitbreiding van Saxdownweg in Kuilsrivier, asook die verdubbeling van Amandelweg vanaf Bottelaryweg tot by Kerkstraat in Kuilsrivier.
Beroep op stad
Carin Brynard proporsionele verteenwoordigende raadslid van CapeExit, het egter ’n beroep op die stad gedoen om die padinfrastruktuur in Brackenfell-boulevard ook op te knap.
Volgens Brynard het dié padnetwerk nie tred gehou met die snelle ontwikkeling in die gebied nie en het dit tot geweldige verkeersopeenhopings in De Bronweg, sowel as Brackenfell-boulevard, van Durbanville tot in Proteahoogte gelei.
“As ’n openbare verteenwoordiger ontvang ek weekliks klagtes van die publiek oor die opeenhopings waaronder hulle ly, veral met die oorsteek van die Boulevard-brug oor die N1 en die onvoldoende bane daarna tot in Ou Paarlweg en weer in die teenoorgestelde rigting na De Bronweg,” sê sy.
Brynard sê sy dryf die kwessie al vir ’n aantal jare, maar het nog nie voldoende bystand van óf Sanral óf die Stad ontvang nie.
Volgens haar sal die verlenging van die R300 in die rigting van Durbanville nie die verkeersdruk oor die N1-brug in Brackenfell-boulevard verlig nie.
“Mense wat die brug in die rigting van Brackenfell-sentraal oorsteek, verlaat of keer terug na hul huise in gebiede soos Arauna, Springbokpark, Edenpark, Morgenster, Morgensterhoogte of Proteahoogte. Die verbreding van beide die brug en ook Brackenfell-boulevard is die sleutel tot verkeersverligting,” sê Brynard.
inwoners stem saam
Jaco Smith van Vredekloof stem ten volle saam met Brynard.
“Ek het die probleem al voorheen aan die Stad uitgewys.
“Ek woon sedert 1994 in die Vredekloof-gebied, toe Vredekloof nog nuut was en daar nie veel ontwikkleling was nie. Vandag het die gebied baie verdig en uitgebrei tussen De Bronweg en Wellingtonweg in Durbanville. As inwoners van daar van die N1 gebruik maak of aan die suidekant van die N1 werk, is daar net drie opsies om oor die N1 te kom: Okavango-rylaan, Brackenfell-boulevard en Old Oak-weg. Van dié drie paaie is slegs Brackenfell-boulevard steeds ’n enkelbaan,” sê hy.
Volgens hom dra beurtkrag ook by tot die erge verkeersknope op dié pad.
“Tydens beurtkrag is beide stelle verkeersligte weerskante van die brug, asook verder af by die polisiekantoor, buite werking; dan is dit chaos. As daar beurtkrag is tussen 16:00 en 18:00, neem dit my somtyds 45 minute net om van die Frans Conradie-kruising tot by die polisiekantoor te ry. Dit is ’n afstand van 500 meter, wat 45 minute neem,” sê hy.
Edward Murray van Proteahoogte sê dit neem hom 40 minute per dag om sy kinders by die Laerskool Vredekloof af te laai as gevolg van die verkeer oor die N1-brug.
“Dit is ’n groot mors van tyd, energie en petrol. Die pad van Frans Conradie en die brug sal verbreed moet word,” sê hy.





