Nagmerrie-verkeersknope rondom Vredekloofhoogte tydens spitsure, veral in Brackenfell-boulevard en Okavangoweg, het inwoners genoop om antwoorde van die Stad Kaapstad te soek.
Inwoners sê die verkeerschaos word veroorsaak deur die uitgebreide hoëdigtheidsontwikkeling in Brackenfell-boulevard sowat vier jaar gelede – ontwikkelings wat hulle ten sterkste teengestaan het.
“Wat ’n nagmerrie! Dit het ons lewens omvergewerp. Dit neem my sowat 45 minute om van CapeGate-winkelsentrum tot by my huis in Vredekloofhoogte te ry, wat skaars 3 km weg is,” sê ’n inwoner, Bonita Conradie.
“Ek kon by geen van die uitgange van die sentrum uitkom nie, omdat die verkeer oral bankvas staan as gevolg van versperrings by kruisings wanneer die ligte rooi slaan en voertuie in die middel van die pad staan – veral by die Okavango-kruising by die hospitaal,” sê sy.
Opeenhoping van verkeer by die kruising van De Bronweg en Brackenfell-boulevard is ook ’n groot kopseer vir motoriste uit albei rigtings (Durbanville en Brackenfell).
“Verkeer wat oor die brug probeer kom, versper die kruising en dan kan niemand beweeg nie. Motoriste van Durbanville se kant staan baie lank om uit te kom. Dis ook geen grap vir diegene wat van Ou Paarlpad se kant af ry nie.”
Conradie het verlede week ’n versoek aan die wyksraadslid Gerhard Fourie gerig om die verkeer op die omliggende roetes in spitstye te monitor met die oog daarop om die probleem op te los.
Conradie, wat lid is van die Northern District Community Forum (NDCF), sê die Stad sal iets daadwerkliks moet doen.
“Die nuwe woonstelblokke by Belami-sirkel word nog nie eens bewoon nie en die woonstelle in Vredekloofhoogte is ook nie 100% vol nie en dit lyk al klaar so.
“Die Stad is veronderstel om al sy inwoners en belastingbetalers te dien. Ek eis dat die Stad hieraan aandag gee en so gou moontlik,” het sy in ’n skrywe aan Fourie gesê.
Die NDCF het in 2018 sterk kapsie gemaak teen die ontwikkeling van die meer as 600 nuwe woonstelle in Brackenfell-boulevard, net duskant Kleinbron-landgoed. “Ons het voorspel dat die bestaande infrastruktuur nie al die nuwe verkeer sou kon dra nie, en ons was reg. Ons het ons insette gelewer deur die hele proses, maar die ontwikkeling is steeds goedgekeur sonder om aan ons besware gehoor te gee,” sê sy.
Die NDCF het toe ook appèl aangeteken, wat verwerp is omdat hulle volgens die Stad ’n dag laat was met die aansoek.
Maar volgens Conradie het die subraad vir hulle ’n skrywe gestuur met ’n datum wat ’n dag verskil van die Stad se sperdatum.
“Ons het die fout aan die Stad uitgewys op dokumentasie, maar die Stad wou nie ons appèl aanvaar nie. Ons enigste opsie was om hooggeregshof toe te gaan, maar daar was nie geld daarvoor nie.”
Die NDCF het in sy destydse insette gesê die padbeplanning rondom die nuwe ontwikkelings is nie voldoende nie.
“Ons het selfs ’n onafhanklike persoon gekry om self ’n verkeersimpakstudie studie te doen wat verskeie foute uitgewys het in die Stad se verkeersimpakstudie. Daar was talle tegniese en berekeningsfoute in hul verslag,” sê Conradie.
“Die nuwe skool en Vredekloof is ook nie destyds in berekening gebring nie. Die Stad het gefaal om die groter verkeersprentjie in die area in ag te neem. Talle klein verkeersimpakstudies word gedoen, maar dit neem die ander nie in ag nie.”
Conradie sê dit is nie meer ’n plesier om in Vredekloofhoogte te bly nie.
“Ons moet ons lewens rondom die verkeer beplan. Ek kan nie eens meer my ouers nooi vir ete op ’n weeksaand nie omdat dit hulle te lank vat om by my uit te kom van Proteahoogte – net 5 km weg in Brackenfell-boulevard. Dit was erg voor die ontwikkeling, maar het baie erger geword.”
TygerBurger het die kantoor van Gerhard Fourie en die Stad Kaapstad om kommentaar genader en wag steeds op terugvoer.





