Die ontnugtering het gebeur voor ’n badkamerspieël in Engeland.

Ek was toe al geruime tyd ’n inwonende versorgingswerker vir Ivan, ’n kwadrupleeg. Een oggend midde-in ons daaglikse roetine keer ek ’n skottel waswater in die wasbak uit. Met die opkyk vang my oog ’n glinstering.

Ek moes weer kyk, maar anders as nou, baie jare later, was my naby-kyk toe wel in fokus.

Blikskottel, toe tref dit my soos ’n bliksemstraal – so wrintiewaar ’n grys haar. Ek was net 27.

Die haar is summier uitgepluk. Die laaste sien van die bli(n)kkantien – vir eers. Genadiglik het die verdwaalde haar se maats darem eers veel later hul verskyning begin maak. Daardie grou-visioen wat ek vir ’n oomblik daar in die badkamerspieël gesien het, is nog nie ten volle verwerklik nie.

’n Paar jaar gelede by ’n reünie was van my ou klasmaats beslis meer wys, maar ander was darem ook meer grys as die uwe. Die twee gaan nie noodwendig hand-aan-hand nie. Bygesê, al probeer ek my soms self daarvan oortuig.

Makliker?

Dit raak seker darem makliker duskant 45 of 50 om maar grys hare te aanvaar.

Daar is mos darem salf (of eerder kleursel) te smeer as jy nou besluit die skakering werk nie vir jou nie.

Soos my ma wat nog duskant 80 bruin hare verkies. Sy het haar mooi vel by my oupa geërf, so sy lyk darem nie soos “mutton dressed as lamb” nie.

Deesdae terg ek my sus, wat dit kindertyd by haar kleinsussie ingedril het dat sy vyf en ’n halfjaar ouer as ek is, daarmee dat sy altyd vyf én ’n halfjaar ouer as ek gaan wees.

Ousus kan natuurlik vooraf waarsku wat kom, maar Kleinsus stry (of hoop) soms nog verwoed dit gaan anders wees. Soos daardie waarskuwing van sig wat kan begin lol hier rondom die middel tot laat veertigs.

My arms moes toe op 47 begin rek vir lees. Jou kop baklei net tot jy moeg gesukkel is en dan gee jy maar in en gaan koop ’n +1-leesbril.

Daai sommetjie staan ook nie stil by +1 nie, het ek gou agtergekom. Miskien moet ek maar eerder in plaas van daai plusse, wat eintlik ’n minus is, net my seëninge tel, want my een broer moes as tiener al bril dra.

Duikongeluk

Eintlik kry ek bietjie skaam as ek oor enigiets wil kla as ek aan Ivan destyds in Engeland dink.

Ek onthou hoe oorweldig ek gevoel het die eerste dag wat ek by sy huisie ingestap het en die man, toe 46, ontmoet het wat net sy kop kon beweeg. Waarin het ek my begewe, het ek gedink.

Ivan het in sy middel-twintigs sy nek in ’n duikongeluk gebreek, maar daar was niks fout met sy verstand nie.

Hy het my rustig deur alles gepraat wat ek moes doen. Hy kon wel sy elektriese rolstoel met sy ken self stuur.

Sy wil om so ’n vol moontlike lewe te hê ten spyte van sy omstandighede, sal my altyd by bly.

Ons het die wêreld vol rondgery. Saam met sy verpleegster-vriendinne was ons gereeld “Ivan’s Angels” by die “pub quiz night”.

Ivan het my ook die ruimte gebied om my oefenprogram te kon volhou. Hy en sy vriend het my boonop London toe geneem sodat ek my eerste marathon kon aandurf – ’n beter herinnering van toe ek 27 was as ’n grys haar. – Carina Roux

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article