Elizabeth Mouton, Chantelle Fredericks (afloswerker), Cecilia Olivier, Pamela Fisher, Yolande Barnard, Althea Aries, Johlin Geldenhuys, Elma Isaacs en Zakhira Neethling.


Vir Yolande Barnard en haar span werkers was dit ’n emosionele dag toe die Rock-a-Bye-babahuis einde April sy deure moes sluit.

Dié kindersorgsentrum in Jan Hofmeyrstraat het op 20 Desember 2005 oopgemaak en deel van die Kuilsrivier-gemeenskap geword.

Dit was ’n emosionele afskeid vir Yolande Barnard en die werkers van Rock-a-bye-babahuis. Kloksgewys langs Barnard (links met die bril) is Pamela Fisher, Chantelle Fredericks (afloswerker), Zakhira Neethling, Althea Aries, Cecilia Olivier, Elma Isaacs en Johlin Geldenhuys.

Vir Barnard en die werkers was dit soos ’n tweede huis.

Die nuus van die sluiting is op sosiale media met hartseer uit verskeie oorde begroet. Aanneemouers van naby en tot so ver as België en Nieu-Seeland het van hulle laat hoor.

In die bietjie meer as 17 jaar het 383 babas daar ’n veilige tydelike tuiste gekry. Die babas sou tussen drie maande en ’n jaar, en sommige kinders tot op driejarige ouderdom bly, totdat hul individuele sake afgehandel is, sê Barnard.

“Elke baba wat deur ons huis is, het ’n permanente huis gekry.”

Barnard en haar man, Theo, was vir 14 jaar by Rock-a-bye betrokke.

“Ons het deur ons kerk, Gen-to-Gen, betrokke geraak. Die babas het net my hart gesteel. Ek kon nie anders as om net my liefde te gee en te gee nie. My tyd was ook nie meer my eie nie.”

Die moeite werd

Barnard het nog kontak met baie van die kinders en aanneemouers. “Hulle is gelukkig en presteer goed. Ek voel baie bevoorreg om deel van hierdie kinders se lewe te kon wees – hul eerste huis en eerste liefde.”

Dit was ’n groot taak wat die Here haar gegee het, sê Barnard.

“Dit was nie altyd maklik nie, maar beslis die moeite werd. Wat vir my uitgestaan het deur die jare, was wanneer ek my liefste babas oorhandig aan die aanneemouers – daardie vreugde gemeng met trane wat hulle ervaar. Dit het my getroos om te weet hulle is in goeie hande.”

Dit was nie vir Barnard of die werkers maklik om kinders groot te maak soos hul eie, en dan weer te laat gaan nie. Sy moes haarself en hulle gereeld herinner dat hul doel in die lewe is om te versorg en te gee in liefde, sê sy. “Hulle is net aan ons geleen. Daarom was ons so bevoorreg om deel van hul lewens te kon wees.”

Elizabeth Mouton, Chantelle Fredericks (afloswerker), Cecilia Olivier, Pamela Fisher, Yolande Barnard, Althea Aries, Johlin Geldenhuys, Elma Isaacs en Zakhira Neethling.

Haar span werkers was staatmakers met harte van goud, sê Barnard.

Johlin Geldenhuys (60) was een van Rock-a-Bye se eerste werkers.

“In die 17 jaar was sy nie een dag afwesig nie.”

Elma Isaacs het 14 jaar diens en die ander werkers, Lizel Abelse, Cecilia Olivier, Pamela Fisher, Althea Aries, Elizabeth Mouton en Zakhira Neethling, het almal langer as vyf jaar daar gewerk.

“Hierdie mense is goed opgelei en die mees lojale werkers waarmee ek geseën is. Hulle is soos my familie. Hulle is my en Theo se room en goud,” sê Barnard.

Die huis kon ’n maksimum van 10 babas op ’n slag huisves.

Nuwe seisoen

“Ons begroting in ’n maand was ongeveer R80 000, wat genadiglik elke maand deurgekom het. Genade van Bo. Beurtkrag het sy uitdagings gehad, maar ons kon oor die weg kom.”

Barnard sê die uitdagings was erger wanneer die babas siek geword het, want as een sou siek word, het al 10 siek geword. Sy bedank die dokters Marle du Toit en Marieta van Schalkwyk, suster Christene Swart van Storknest Kuilsrivier en die Netcare Kuilsrivier-hospitaal vir hul hulp.

“Deur die jare wanneer Rock-a-Bye mediese hulp benodig het, was hulle daar vir ons.”

Van links is Pamela Fisher, Althea Aries, Chantelle Fredericks, Elma Isaacs, Yolande Barnard, Cecilia Olivier, Elizabeth Mouton, Johlin Geldenhuys en Zakhira Neethling.

Dit het harde werk en deursettingsvermoë geverg om Rock-a-Bye te bedryf, maar die gemeenskap het ook ’n rol gespeel in hul sukses, sê Barnard.

“Groot besighede soos TSU Protection Services, Prosperity Management Africa, Autus, Eze Products, Gen-to-Gen kerk, Pepkor, Tenacity en soveel ander, asook individue, het dit finansieel moontlik gemaak om te oorleef. Ons Facebook-gemeenskap van amper 6 000 volgelinge was altyd daar wanneer ons hulp gevra het. Ons was regtig geseënd.”

Rock-a-bye se perseel behoort aan die AGS uitvoerende welsynraad, wat besluit het om dit te verkoop.

Barnard sê die Ubuntu-babahuis in Goodwood, wat voorheen 12 babas kon huisves, word omskep om 22 babas te kan huisves.

“Sodra die Ubuntu-huis klaar is met hul veranderings, sal hulle die ekstra 10 babas kan huisves.”

Ses van die laaste babas wat by Rock-a-Bye was, is oorgeskuif na ander kindersorgsentrums en een is intussen aangeneem. “’n Nuwe seisoen het aangebreek vir ons elkeen. Rock-a-Bye se Facebookblad sal oopgehou word ter wille van die herinnering,” sê Barnard.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article