Leigh-Anne Hill (voor) met haar eerste boek by Ingrid Venter-Groenewald, radio-omroeper by Radio Tygerberg.


Die skrywer Leigh-Anne Hill vertel sy wil nie net skryf nie, maar dat sy ook deesdae die baadjie van uitgewer aantrek.

Hill het in 2021 begin skryf en haar eerste boek, What is your driving force? You cannot be driven by fear, gepubliseeren uitgegee.

Die publiseergogga het haar toe behoorlik gebyt en sy het Say it and it shall be, Slaptjips en Snoek (’n Gesonde huwelik en sekslewe), Dis mos lekker, ja, Die pad van geloof vir elke jong meisie en vrou, Kersfees en Kersvader, die Paashaas en Paasfees, die Tande Muis en die Tande Fee, asook die vertalings daarvan: Christmas and Santa Clause, the Easter Bunny and Easter, the Tooth Mouse and the Tooth Fairy, geskryf en self gepubliseer in minder as twee jaar.

Hill vertel dat een van haar kortverhale in die Ink Dig en Skryf- bloemlesingbundel opgeneem is. So het haar besigheid, Leigh-Anne Bowley Hill and Children, ontstaan.

Uitdagings

Volgens Hill hou sy van uitdagings.

“As jy uitgedaag word en iets is moeilik, is daar altyd iets om te leer en jy groei hierdeur,” vertel Hill.

Sy glo as ’n mens lief is vir wat jy doen en passievol is, dan is enige skuif maklik.

Volgens Hill is sy lief vir skryf, lees, mense, navorsing en om heeltyd iets nuuts te leer.

Die taak van ’n uitgewer

“Ek redigeer, formatteer, proeflees, herskryf, oorsien, hersien taal en spelling, sit boeke in boekformaat, met ander woorde ek help met die uitleg, voorblad en agterblad,” verduidelik sy.

Hill gee boeke namens ander uit en bemark dit vir hulle.

Leigh-Anne Hill saam met haar man, John Louis Hill en seun Joshua Hill

“Ek doen ook grootmaat-boekdrukwerk teen baie bekostigbare pryse. Ek werk vir maatskappye om byvoorbeeld hul administratiewe dokumente korrek op te stel, hul handleidings te help bymekaarsit en soveel meer,” sê sy.

“Ek het ’n bemarkingspakket teen ekstra koste en kliënte kan ook bekostigbare grootmaat-boekdrukwerk deur my doen.”

Gunstelingdeel

Hill sê die gunstelingdeel vir haar van uitgewer wees, is dat jy “ongelooflik baie leer en soveel kennis opbou”.

“Jy stimuleer elke dag jou breinvermoë; sodoende is jy ook ’n baie gesonder individu, want jy verryk jou en ander se lewe,” sê sy.

“Ek glo kennis is krag en lees is altyd lekker. Hierdie kennis kan jy weer vir jou kinders gee en as jy ’n uitgewery het, is daar vir hulle iets baie waardevol om te benut en mee te werk in die toekoms.

“Jy help ook ander om hul drome uit te leef,” sê Hill.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article