By ’n vaardigheidskool kan leerders vaardighede leer wat hulle êrens in die toekoms kan gebruik om ’n inkomste te skep. Leerders wat vroeg reeds weet watter beroep hulle wil volg, word aangeraai om na ’n vaardigheidskool te gaan.


Leerders aan ’n vaardigheidskool hoef nie minderwaardig te voel omdat hulle nie by ’n hoofstroomskool is nie.

Só sê Alison February, ’n opvoedkundige spesialis gemoeid met die presidensiële jeugwerkskeppingsprogram.

By ’n vaardigheidskool kan leerders vaardighede leer wat hulle êrens in die toekoms kan gebruik om ’n inkomste te skep. Leerders wat vroeg reeds weet watter beroep hulle wil volg, word aangeraai om na ’n vaardigheidskool te gaan.

“Ek is ’n groot voorstander daarvan dat kinders wat meer tegnies aangelê is, na vaardigheidskole gaan. Suid-Afrika het ’n tekort aan vaardige ambagslui en vaardigheidskole kan help om hierdie agterstand uit te wis. Dit is ’n groot wanpersepsie dat net ‘dom’ kinders na vaardigheidskole gaan, en ek wil dit nekomdraai. Dit het niks met kognitiewe vermoëns te doen nie. Daar heers ’n stigma omdat mense nie ingelig is oor wat ’n vaardigheidskool bied nie. Dis gewoonlik hoofstroomskole en die gemeenskap wat hierdie stigma voed omdat vir die kinders gesê word hulle gaan na ’n ‘dom’ skool toe.

“Ek ken iemand wat gesien het haar kind stel belang in die sweiswerk wat sy pa doen. Sy het gevra dat hy na ’n vaardigheidskool gaan, want sy wou nie hê hy moet vakke op skool neem waarin hy geen belang het nie,” sê February.

Volgens February kan sommige kinders nie in sekere klassituasies aanpas nie en van hulle het spesiale aandag nodig.

“Daar is verskillende redes hoekom hulle daarna verwys word. By die vaardigheidskool moet hulle ’n spesifieke praktiese rigting kies. Die skool gaan hulle dan ook uiteindelik op ’n loopbaanpad plaas. Kleiner klasse is ook ’n voordeel van ’n vaardigheidskool waar die leerder gefokusde, persoonlike aandag kan kry. Sommige kinders blom in ’n leer-omgewing wat ondersteunend is en waar hulle nie hoef mee te ding met leerders in die hoofstroom nie,” sê sy.

February sê nie alle leerders sal eendag universiteit toe gaan of wil agter rekenaars in kantore werk nie.

“Sommige leerders is net aangelê om met hul hande te werk, en dit is die mense wat die vervaardigingsbedryf in die land tot sy reg kan laat kom. Behoeftes in die arbeidsmark moet gediagnoseer word en vaardighede moet spesifieke daarvoor ontwikkel word. Kinders het diverse leerstyle, en die gemeenskap moet waardering hê vir die unieke bydraes wat vaardigheidskole lewer,” sê February.

Vaardighede soos houtwerk, paneelklopwerk, metaalwerk en spuitverf, wat by vaardigheidskole aangebied word, kan help dat leerders ná skool selfstandige volwassenes kan word.

“Kleinsakeondernemings is ’n belangrike dryfveer om armoede in die land te verlig en met vaardighede soos dié kan mense hul omstandighede verander. ’n Leerder wat uit ’n vaardigheidskool kom, kan selfstandig wees en na hom- of haarself omsien.”

Leerders wat suksesvolle volwassenes word nadat hulle by ’n vaardigheidskool was, moet meer blootstelling kry.

“Dit is belangrik dat hierdie mense se suksesse aan die groot klok gehang word sodat die stigma afgebreek kan word en kinders aktief aangemoedig kan word om vaardigheidskole by te woon. Ek dink daar is ook ruimte vir die regering om meer te belê in verdere opleiding van leerders wat van vaardigheidskole kom,” sê sy.

In die Wes-Kaap is daar 19 vaardigheidskole. Vir inligting besoek die WKOD se webtuiste by https://wcedonline.westerncape.gov.za/.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article