Kaapstad en die Wes-Kaap se vaardigheidsopleidingspotensiaal kry binnekort ’n reuse-hupstoot.
Onder die vaandel van die geakkrediteerde vaardigheidsopleier Industries Training and Education Centre (IETI) kry die stad ’n nuwe wêreldklas-vaardigheidskampus te Voortrekkerweg 20 in Goodwood.
Die nuwe IETI-kampus sal die grootste van sy soort met private ambagsopleidingsgeleenthede en ’n ten volle geakkrediteerde vaktoetssentrum vir inwoners van die Kaapse Metropool wees.
Die nuwe perseel vervang die historiese IETI- tegniese opleidingsentrum in Maitland, maar die nuwe fasiliteite sal dubbel die aantal opleidingsgeleenthede bied as wat oor die afgelope drie dekades deur IETI, een van ’n aantal vaardigheidsopleidingsentra binne die UXi Artisan Development-groep, vir ambagsopleiding aangebied is.
Die nuwe IETI-kampus vir vaardigheidsopleiding en die verwerwing van Rooiseël- Vaktoets-kwalifikasies versterk Kaapstad se positiewe bydrae tot die nasionale behoefte om teen 2030 jaarliks minstens 30 000 formeel gekwalifiseerde werkers aan die nasionale ekonomie te kan lewer.
Sedert 1991
Sedert IETI in 1991 tot stand gekom het, het sy opleidingsgeleenthede aan die Wes-Kaapse en Kaapstadse jeug en werkende tegnici en ondersteuningspersoneel wat na geleenthede soek om ’n geakkrediteerde kwalifikasie te verwerf, deurlopend uitgebrei.
In 2015 het IETI te groot geword vir sy vorige tuiste in die stad en die sentrum is na ’n perseel van 1 500 m² in Soutrivier verskuif. Drie jaar later moes die opleidingsperseel vanweë die behoefte aan meer gekwalifiseerde manne en vroue weer verhuis na ’n nuwe perseel van 2 500 m² in Maitland.
- Elektrisiëns
- Sweisers
- Verkoelingstegnici
- Messelaars
- Loodgieters
- Skrynwerkers
- Passer en draaiers
- Dieselwerktuigkundiges en motorwerktuigkundiges
Elsie Harmse, uitvoerende hoof van die UXi Artisan Development-groep, sê die opening van hierdie ambagsentrum is om vir jongmense hoop te gee, om vir ouers te sê daar is hoop en alles gaan nie oor universiteitsopleiding nie. Dit gaan daaroor dat ons vir elke kind wat ’n passie het, die kans bied om dit te kan uitleef. Daardie passie gaan óf vir hom ’n werk beteken óf hy gaan ’n werkgewer word.
Volgens Harmse is daar in Suid-Afrika 113 programme wat die hoogste prioriteit van werksplasings internasionaal is.
“By ons is dit sweis, elektronies, en motor-en-dieselwerktuigkunde,” sê sy.





