Snow en sy eienaar, Hein von Molendorff.


Snow, ’n 13-jarige Siberiese poolhond (husky) wat meer as 16 000 km in sy leeftyd afgelê het, vier een van die dae sy veertiende verjaardag.

Sy eienaar, Hein von Molendorff van Durbanville, meen die “ou man” is alles behalwe oud – hulle stap nog elke oggend omtrent 5 km.

Hein sê as rugby-skeidsregter in sy vroeër jare was fiksheid altyd bo-aan sy lysie.

“Ek het hom gekry toe hy een jaar oud was. Oor twee maande is hy 14 jaar oud. Ek het in die 13 jaar meer as 16 000 km met hom gestap en gehardloop. Toe ek jonger was, was ek ’n rugby-skeidsregter. Ek moes fiks bly en het hom as verskoning gebruik om te gaan hardloop. Noudat ek ouer is, stap ek die afgelope paar jaar met hom. Ek en my vrou gaan stap feitlik elke dag 5 km met hom – of selfs langer afstande,” sê hy.

Soggens halfses kom “kla” Snow by sy pappa Hein se kamervenster, gereed om te gaan stap.

“Hy is in Piketberg gebore. ’n Man en sy vrou het hom vir hul kind op ’n plaas gekoop. Toe skei hulle en wou die hond verkoop. Ek onthou dit nog goed: Ek het hulle die Saterdag op die klein dorpie Philadelphia, buite Durbanville, ontmoet. Die vrou (vorige eienaar) was baie hartseer om van hom ontslae te raak. Sy het baie met hom op die plaas gaan hardloop – sy was ’n atleet. Aan die begin was ek baie skepties dat ons ’n hond van ’n jaar oud gekoop het – ’n mens koop mos maar altyd die goeie maniere van die hond met die slegte maniere – jy weet nie eintlik wat jy koop nie. Gelukkig was daar geen ‘potty training’ om te doen nie. En ek was gelukkig – ek het ’n baie goeie hond gekoop,” sê hy.

Wat Snow uniek maak, is dat hy nie weghardloop as hy losgemaak word van sy lyfband nie. Volgens Hein hardloop baie poolhonde weg; Snow nie.

“Ek maak hom vir groot ente los as ons stap, en maak hom net vas by groot pad-kruisings. Verder is hy amper verslaaf aan stap. Elke oggend om halfses kom hy na ons kamervenster en dan hoor ek sulke klein geluidjies – hy ‘moan’ hy wil gaan stap. Ek het dan nie ’n keuse nie. Staan op! Vir jare al. In die wintermaande, as dit reën, gaan stap ons in die middag,” sê hy.

Hein en sy vrou besit ’n strandhuis in Kleinbaai, Gansbaai, waar hulle een keer per maand gaan kuier.

“Snow gaan altyd saam. Snow het ook al tussen ons huis in Durbanville en die strandhuis meer as 50 000 km saam met ons heen en weer gery – altyd agter in my bakkie. Hy eet net hoender en elke aand kook ek vir hom hoender – hy verorber meer as R1 500 se hoender per maand. Hy is nou oud, maar hy is nog baie fiks,” sê Hein.

Hein sê Snow het ’n vreeslike mooi geaardheid. Hy kom baie goed met mense oor die weg, asook ander honde.

“Hy het nog nooit enige mens gebyt nie – ek en my vrou het vier kleinkinders wat wissel tussen ses maande en vyf jaar. Hulle is almal baie lief vir hom. Maar hy haat katte en het ook al verskeie tarentale en voëls gevang. Ons stap baie in die veld.”

As enigste troeteldier word Snow baie bederf.

“My vrou wil graag ’n kat hê, maar hy haat katte. Hy jaag hulle altyd in die veld as ons stap – ek is bevrees hy sal hulle byt.”

Snow is ook ongeveer agt jaar gelede al deur ’n motorfietsryer raakgery.

“Ek en hy het gehardloop en ’n grootpad oorgesteek. Daar het ’n motorfiets verbygekom en hom raakgery. Gelukkig het ek hom amper betyds uit die pad geruk, so die impak was nie so erg nie. Die motorfietsryer het weggery. Maar ek was te bang om na Snow se gesig te kyk ná die raakry, omdat ek gedog het die motorfiets het hom in sy gesig getref. Ek het hom in my arms opgetel en op die sypaadjie met hom gaan sit en begin bid. Ek kon nie eens my vrou bel nie – ek het nie ’n selfoon byderhand gehad nie.”

’n Barmhartige Samaritaan het toe gestop en gevra of Hein hulp nodig het.

“Ek klim toe in haar kar, agter-in, met Snow op my. Sy het ons toe na die vet in Sonstraalhoogte geneem. Ek het nooit weer van die vrou gehoor nie. Snow is vir die dag in die dierehospitaal opgeneem en vir ’n bout-wond behandel – dis al! Dit was ’n wonderwerk.”

Hein sê die “ou man” dra die afgelope 18 maande ’n enkel-beskermer.

“Dit is maar net as voorsorg – soms swik sy regter-voorbeen as ons gaan stap – seker maar die ouderdom wat inskop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article