As jy ń gemeenskap wil bou het jy elke bietjie hulp nodig wat jy kan kry en dit is waar mense soos Dennis Lawrence (64) uitstaan.
Lawrence is ń man wat nie op hom laat wag nie en dit is hierdie ingesteldheid wat maak dat hy dit op homself geneem het om seker te maak inwoners is veilig wanneer hulle oor die treinspoor stap.
Mense help
Hy by die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, gaan aanklop om te vra wat hy vir sy gemeenskap kan doen. McKenzie het op sy beurt vir Lawrence gevra watter bydrae hy dink hy kan lewer. “Ek wil mense veilig oor die treinspoor lei,” was sy antwoord.
“Wat het jy nodig?” het McKenzie gevra.
“Gee my net ń flitslig en ń uniform,” was die antwoord.
Sedert daardie dag vier jaar gelede is Lawrence elke dag getrou op sy pos. “Ek het die nood in ons gemeenskap gesien en moes aanskou hoe hardwerkende inwoners van Bonteheuwel beroof word onderweg werk toe. By verskeie geleenthede moes ek mense te hulp snel wanneer bendelede hulle wou beroof. Veral in die winter, wanneer dit donker is, is dit baie gevaarlik vir mense om alleen te stap. My kommer is veral by vroue en kinders,” sê Lawrence.
Stuur net ‘n WhatsApp
As jy bang is om alleen te stap, kan jy net vir Lawrence ‘n WhatsApp-boodskap stuur en hy sal saam met jou gaan. “Ek het ‘n passie om ander te help en doen dit nie vir eerbewyse nie, maar vir die veiligheid van die gemeenskap. Aan die begin was daar nog twee ander mense wat my gehelp het, maar hulle is nie nou meer beskikbaar nie. Dit is vir my ‘n voorreg om dit vrywillig vir my gemeenskap te doen,” sê hy.
Volgens hom sien hy daarna uit om nog baie saam met Mckenzie aan te pak. “Met hom aan my sy kan ons nog baie meer doen om hierdie gemeenskap te dien,” sê hy.
McKenzie sê Lawrence is ‘n voorbeeld van wat mense moet doen om hul gemeenskap te dien. “Dit is ‘n bewys dat gewone mense buitengewonde dinge kan vermag,” sê McKenzie.





