Covid-19, streng inperkingsmaatreëls, geen fisieke kontak, maskers, aanlynleer …
Die matriekgroep van 2021 het ongekende uitdagings beleef.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede week tydens die bekendmaking van die matriekuitslae die groep vir hul deursettingsvermoë tydens die pandemie geprys.
“Dis die enige (matriek-)groep wat vir twee jaar ingevolge die reëls van ’n ramptoestand moes studeer sodat Covid-19 se impak versag kon word.”
“Ek dink ons het nie die volle ervaring (van ons matriekjaar) gehad nie,” sê Martin Hattingh, oud-leerder van die Hoërskool Stellenberg. Maar hy voel die skool het baie moeite gedoen om Covid-vriendelike ervarings vir hulle te skep, “wat vir ons baie goeie herinneringe gegee het”.
Danielle Swanepoel van die Hoërskool D.F. Malan sê die hoeveelheid tyd wat sy skielik tydens die inperking gehad het, staan vir haar uit.
“Ek was voor die pandemie betrokke by vreeslik baie aktiwiteite en het gereeld laat die aand eers by die huis gekom. Ek moes skoolwerk in elke oop stukkie in die dag tussen aktiwiteite indruk. Toe kom Covid-19 en middae het ek skielik baie tyd gehad – tyd vir so baie ekstra belangstellings en stokperdjies. Skool het ook baie rustiger gevoel.”
Simoné Wessels van Stellenberg, wat die naasbeste matriekuitslae in die land het, het ’n soortgelyke ervaring gehad.
Sy het eers haar akademiese vermoëns besef toe sy nie meer aan buitemuurse aktiwiteite kon deelneem nie.
Haar punte het geweldig gestyg en sy het gevorder van vierde of vyfde in gr. 10 tot tweede in die land in matriek.
Dit was wel vir haar veral moeilik om nie tydens die inperking haar vriende of onderwysers te kon sien nie.
Renke Lorio, van die Hoërskool D.F. Malan stem saam. “Dit was baie moeilik om nie fisiek deel van die skoolgemeenskap te wees nie.”
Daar was ook skielik meer werk in matriek.
“Dit was ook baie moeilik om die verhoogde werkslading in matriek te hanteer omdat ons nie ’n volle eksamen aan die einde van gr. 11 geskryf het nie. Dit was ’n baie skielike aanpassing wat ons almal moes maak om van twee tot drie uur lange vraestelle tydens die rekordeksamen te gaan,” sê Lorio.
“(Skoolgaan tydens Covid-19) was ’n groot aanpassing,” sê Emma Thom van Stellenberg.
Skielik moes hulle (en die onderwysers) gelyktydig leer hoe om elektroniese leer toe te pas.
“Maar dit was fantasties om te sien wat die skool kon doen. Hulle het regtig moeite gedoen om e-leer op te skerp. Hulle was só entoesiasties.”
Laeeqa Pangarker van Stellenberg sê dit is juis iets wat vir haar uitstaan – sy en haar onderwysers moes gelyktydig leer om skool te gaan en te hou deur middel van ’n rekenaar.
Alicia Malan van Stellenberg sê ’n voordeel is dat hulle meer kon fokus op akademie in hul belangrike gr. 11-jaar, omdat hulle in 2020 streng inperkingsmaatreëls beleef het en aan geen buitemuurse aktiwiteite kon deelneem nie.
Onderwysers het ook ’n klomp video’s gemaak en leerders kon maklik weer en weer na verduidelikings gaan kyk, wat nie dadelik sin gemaak het nie.
Hulle het almal benadruk hoe bevoorreg hulle is dat hulle by die huis deur middel van e-leer kon studeer, terwyl derduisende ander oor die wêreld heen nie die data kan bekostig of die skool het wat so iets moontlik maak nie.
“Baie ander kon nie,” sê Pangarker.
Vir byna almal was dit die beste toe hulle terugkeer skool toe ná die inperking en hulle van e-leer en regte skoolwerk gebruik kon maak.
Swanepoel sê sy het baie meer begin fokus op vrae vra in die klas – iets wat sy eers besef het vir haar voordelig is toe sy terug in die klas is.
Renke sê hulle moes baie oor hulself in hierdie tydperk leer, veral omdat hulle groot besluite moes neem oor hul toekoms tydens so ’n buitengewone situasie.
“Dit was beslis nie maklik nie, maar ek het geleer dat al voel dinge onmoontlik en hopeloos, sal dit weer beter raak. Jy moet dit net tree vir tree vat.”





