Seniors van die Tygerberg Meals op Wheels het verlede week Wêrelddag van Sosiale Geregtigheid gevier. Die was Vrydag 20 Februarie gevier.

Seniors by die Tygerberg Meals op Wheels-gemeenskapsdiens in Weimarstraat, Parow, het verlede week (Vrydag 20 Februarie) Wêrelddag van Gemeenskapsgeregtigheid op ‘n baie besonderse wyse gevier.

Anne-Marie Watt, ‘n senior bestuurder, sê die dag is saam met bejaardes uit een van die organisasie se voedingskemas se gemeenskappe deurgebring, sowel as met ‘n paar seniors van die organisasie se eie senior klub, wat genooi is om die oggend se verrigtinge saam te geniet.

Die viering het met ‘n Godsdiensgeleentheid begin.

“Dit was ‘n oomblik van stilte, dankbaarheid en erkenning vir die jare se bydrae wat elkeen van hulle tot hul families en gemeenskappe gelewer het. Daarna het die vrolikheid begin met ‘n prettige ‘ice breaker’.

“Die vroue is gevra om hul handsakke op die tafel te plaas, waarna 44 moontlike items genoem is wat in ‘n handsak kan wees – van ‘n naelvyltjie tot kougom. Soos verwag, was daar groot verskille. Sommige vroue het byna niks in hul handsakke gehad nie, terwyl ander behoorlik voorbereid was vir enige situasie,” sê Watt.

Cathy Busby, een van die seniors, het uiteindelik met die louere weggestap toe sy 28 items in haar handsak kon uitwys en het ‘n heerlike sjokoladeprys gewen.

“Die oggend het voortgegaan met verversings van vrugteslaai en joghurt, gevolg deur ’n smaaklike ontbyt.”

Watt sê ‘n hoogtepunt van die dag was haar toespraak wat spesiaal op die senior burgers gemik was, aangesien hulle as ‘n klub vir seniors geregistreer is. Haar boodskap het diep geraak en die ware betekenis van gemeenskaplike geregtigheid beklemtoon.

Met huistoegaan-tyd is elke senior verder bederf met twee sakkies vol lekkernye en broodnodige produkte om hul koskaste aan te vul – ‘n tasbare bewys dat gemeenskapsgeregtigheid nie net ‘n begrip is nie, maar ‘n daad van omgee is.

Die dag het nie net mae gevul nie, maar ook harte, sê Watt. “Dit was ‘n viering van waardigheid, erkenning en gemeenskap – ‘n herinnering dat elke senior gesien, gehoor en waardeer moet word,” sê sy.

Vanjaar se tema vir Wêrelddag van Gemeenskapsgeregtigheid is “bemagtig inklusiwiteit en oorbrug maatskaplike gapings vir gemeenskapsgeregtigheid”.

Volgens die soekenjin Google word 20 Februarie sedert 2009 jaarliks deur die VN as Wêrelddag van Gemeenskapseregtigheid herdenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article