Die rieldans-kampioene van Wuppertal dans weer dat die stof staan, danksy ’n hupstoot van twee Brackenfellse filantrope wat onlangs die Wupperthal66-stap in die Sederberge aangepak het.
“Ons was bevoorreg om die Wuppertal-rieldansers te sien optree, maar as gevolg van Covid-19 en die kwaai brand wat in Wuppertal plaasgevind het, het hul optredes soos baie ander tot stilstand gekom,” sê die veteraan- langafstand stappers Laurentius en Bouwer Schoonwinkel van Brackenfell.
Die broers het besluit om te help en die wiel aan die rol gekry. Met die bystand van Vlok Skop, oud-rugbyspeler en skop-guru Vlok Cilliers se nie-regeringsorganisasie (NGO) het hulle kleredrag en skoene aan die groep geskenk.
Dié Stellenbosse NGO spits hom daarop toe om skoolkinders by te staan deur by te dra vir hul benodigdhede soos klere, sporttoerusting, skoolgeld, skooltoere en persoonlike eise en, indien nodig, hulle te skuif na ’n beter skool met meer geleenthede.
“Oor die algemeen is my hartsbegeerte om kinders ’n beter toekoms te gee,” sê Cilliers.
Die skenking het 20 paar skoene, hemde, broeke en warm baadjies en kontant ingesluit.
Kultuurerfenis
Barend Salomo, koördineerder van die Wuppertal-rieldansers, vertel meer oor die kultuurerfenis van die eeu-oue Afrika-dans.
“Die riel is ons tradisionele dans wat oorgeërf is oor geslagte heen van die Khoi en die San wat in die berge gewoon het. Vir geslagte heen was dit die dans wat die gemoedstoestand van ons geslagte laat ophelder het, maar wat ook gedurende sekere rituele byeenkomste uitgevoer is by feeste en/of wanneer daar gebid is vir reën,” sê hy.
Salomo het in 2006 begin om weer die riel onder die kinders van die distrik aan te wakker.
“Dis soos wat enige kultuurerfenis die gevaar loop om uit te sterf indien dit nie van geslag tot geslag oorgedra word en as ’n lewende museum daar uitsien nie. Ek was bekommerd dat hierdie oudste Afrika-dans besig was om onder ons mense uit te sterf.
“Dit was juis die tyd toe die ATKV begin het met die Riel-kompetisie wat jaarliks in die Paarl gehou is.
“Tydens die eerste deelname aan die kompetisie in 2006 het ons riel-kinders die standaard gestel deurdat hulle die eerste prys behaal het.”
Springbokkleure
Sedertdien het dié groep oorwinning op oorwinning behaal by die verskillende geleenthede waar hulle opgetree het.
Ten spyte van geweldige finansiële uitdagings soos vervoer en kleredrag, het hulle voortgegaan en uiteindelik so gepresteer dat hulle met Springbokkleure vir hul besoek aan die Verenigde State beloon is, waar hulle blootstelling gekry het om internasionaal mee te ding.
“Maar soos in baie gevalle met die Covid-19-pandemie het die rieldans hier in Wuppertal ook tot stilstand gekom. Daar was geen optredes nie, en niks het gebeur nie.
“Ek het besluit om die jonger kinders weer betrokke te kry sodat die rieldans nie uitsterf nie. Die groep bestaan nie meer uit dieselfde dansers nie en die nuwe kinders, tans 10 seuns en 10 meisies, moet weer die kuns van riel aanleer en ontwikkel,” sê hy.
“Ons waardeer die geleenthede wat Live The Journey bied met hierdie staptoere om weer te begin om ons kinders blootstelling te gee om weer die rieldans as ons kultuurerfenis te laat voortleef.”





