Cayden Jeffries is vyf keer raakgeskiet.


’n Tweejarige seuntjie veg om sy lewe nadat hy die afgelope naweek vyf keer deur vermeende bendelede raakgeskiet is.

Cayden Jeffries het volgens sy oom, Clement Sarelse, Saterdag voor die huis gespeel toe hy raakgeskiet is.

“Twee van my broer se vriende het op die straathoek gesit en drie verdagte mans sien rondstap. Die mans se teenwoordigheid het hulle ongemaklik gemaak en hulle het na die huis begin beweeg. Die volgende oomblik het die drie skieters om die draai gekom en op hulle begin losbrand. Toe alles bedaar het, is gesien dat die bloed uit Cayden spuit,” sê Sarelse.

Hy vermoed die skietery was ’n vergeldingsaanval omdat een van sy broers voorheen met van die bendelede te doen gehad het.

“Hulle hou nie daarvan dat hy nie meer saam met hulle uithang nie. Hy het getrou en het kinders en gee hulle nou al sy aandag. Dit gaan nie lekker af by sy voormalige makkers nie. Hy word ’n geruime tyd reeds gedreig en die Vrydag voor Cayden geskiet is, is skote op die huis geskiet,” sê Sarelse.

Cayden in gelukkiger dae.

Cayden Jeffries is vyf keer raakgeskiet.

Volgens hom is Cayden ’n klein vegter en sterk hy goed aan in die hospitaal.

Die drie skieters, asook die persoon wat die opdrag gegee het, is glo aangekeer.

Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het bevestig verdagtes is in hegtenis geneem, maar sê net drie word aangehou.

“Ons kan bevestig dat drie verdagtes, ’n 22-jarige, 23-jarige en 37-jarige, aangehou word,” sê Adonis.

Graham Lindorst, voorsitter van Bishop Lavis se gemeenskapspolisiëringsforum, sê dinge in Bishop Lavis is nou so erg dat die kinders nie eens meer veilig is nie.

“Wat het van ons gemeenskap geword as ’n tweejarige nie eens meer buite kan speel nie? Hierdie bendes is gewetenloos en hulle moet so gou moontlik aan die pen ry,” sê Lindhorst.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article