Twee voetgangers is verlede week op die stad se paaie doodgery, het die Stad Kaapstad bevestig.
Die jongste voorval het op Donderdag 17 Oktober omstreeks 20:45 op die N1-snelweg net voor die afrit na Giel Basson-rylaan plaasgevind.
Maxine Bezuidenhout, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se verkeersdienste, sê ’n sedan en voetganger was hier betrokke.
Die 35-jarige voetganger is op die toneel dood verklaar en die polisie het die voorval aangeteken, sê sy. Die toneel is om 23:32 opgeruim.
Twee dae tevore, op Dinsdag 15 Oktober, het ’n soortgelyke voorval verkeer op die N7-snelweg naby Malibongwe-rylaan tydelik ontwrig.
Bezuidenhout sê die botsing tussen nog ’n sedan en voetganger het om 17:42 plaasgevind.
Die 40-jarige manlike voetganger is ook op die toneel dood verklaar, sê sy.Die polisie het die voorval ook aangeteken en die toneel is om 21:11 opgeruim.





