Twee vlieëniers het oorleef nadat hul ligte vliegtuig vroeër vanoggend vermoedelik ’n noodlanding agter die Kraaifontein-waterwerke uitgevoer het.
Paramedici van Titanium Securitas het ongeveer 11:14 ’n noodoproep gekry vanaf ’n ooggetuie wat die vliegtuig sien afkom het.
“Toe ons op die toneel kom, het die vlieëniers langs die vliegtuig gelê. Hulle het self uitgeklim. Een het ernstige kopbeserings opgedoen en is met ’n helikopter na ’n nabye hospitaal vervoer. Die ander een het ligte kopbeserings opgedoen en is per ambulans na ’n hospitaal vervoer,” sê Kobus Kotze van Titanium Securitas.
Volgens hom was altwee vlieëniers in ’n stabiele toestand.Volgens Kotze het die vliegtuig by die Kaapstad internasionale Lughawe opgestyg en sou weer daar land.
Volgens betroubare inligting was een van die vlieëniers kommersieel en die ander ‘n student.
Die Kraaifontein-polisie was op die toneel, maar het TygerBurger verwys na die Burgerlike Lugvaartowerheid vir kommentaar.
Sisa Majola, woordvoerder van die Burgerlike Lugvaartowerheid het aan TygerBurger gesê dat hul ondersoekspan nog op die toneel is.
“Besonderhede oor die ongeluk sal bekend gemaak word sodra dit ontvang word,” sê hy.




