Die verdagtes is na die Parow-polisiekantoor geneem.FOTO: District Group

District Watch

Twee vermeende diewe is verlede week deur die polisie in hegtenis geneem nadat hulle glo ’n groot hoeveelheid vleis by ’n plaaslike kruidenierswinkel in Welgelegen gesteel het.

Die winkel is geleë in Malmesbury-rylaan, Welgelegen. Die voorval het op Dinsdag 2 April omstreeks 15:00 plaasgevind.

Twee beamptes van die private sekerheidsmaatskappy District Watch het op die noodoproep gereageer.

Volgens ’n inskrywing op dié dienste se sosialemedia-blad het die beamptes gereageer nadat ’n noodsein ontvang is.

Met hul aankoms het die winkelbestuurder gemeld dat ’n man met ’n groot hoeveelheid gesteelde vleis in sy besit betrap is.

’n Vrou wat glo saam met hom was, het in ’n voertuig van die toneel gevlug, ook met ’n onbekende hoeveelheid gesteelde vleis, lui die inskrywing.

Die polisie is ontbied en het met hul aankoms die toneel oorgeneem.

Volgens die inskrywing is beeldmateriaal aan die polisie verskaf en ’n strafregtelike saak is geopen.

Die vrou is later aangekeer en na die toneel teruggebring. Die vleis is ook aan die winkel terugbesorg, lui die inskrywing.

Albei die verdagtes is na die Parow-polisiekantoor vervoer.

TygerBurger het verdere navrae oor die voorval na die Parow-polisiekantoor gestuur, maar wag nog op terugvoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article