Twee motoriste op die top-100-lys van verkeersoortreders is op Donderdag 3 Oktober in ’n optrede in die Mitchells Plain-gebied in hegtenis geneem.

Hulle het gesamentlik 87 lasbriewe ter waarde van R270 100 teen hulle. Einde September is nog twee in hegtenis geneem met 43 gekombineerde lasbriewe ter waarde van R226 550.

“Dit is vier motoriste wat ’n halfmiljoen rand in onbetaalde boetes, lasbriewe en minagting van hofboetes laat oploop het. Hulle is voorbeelde van ons motorpubliek wat steeds glo dat hulle met hul wandade kan wegkom. Hopelik sal hierdie wending in gebeure hulle dit laat heroorweeg,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Een van die vier verdagtes is ná sy inhegtenisneming in die Pollsmoor-gevangenis aangehou omdat hy nie die borgtog van R18 000 kon betaal nie. “In die afgelope jaar het ons groter nakoming van sommige motoriste gesien, maar daar is daagliks nog baie oortreders op ons paaie wat dink hulle is bo die reg verhewe. Ek hoop hierdie inhegtenisnemings dien as ’n waarskuwing,” sê Smith.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article