Twee mans is verlede Dinsdagaand met die hulp van kringtelevisiekameras deur metropolisie-beamptes vasgetrek in verband met ’n rooftog by die Brackenfell-poskantoor vroeër die dag.

Sowat R32 000 en verskeie selfone is in hul besit gevind.

Dit is die tweede keer in ’n enkele maand dat die poskantoor onder ’n gewapende rooftog deurloop.

Die rooftog het om 12:30 plaasgevind.

“Een rower het oor die toonbank gespring en een van die tellers gegryp en beveel om die kluis oop te maak. In die kontantkantoor het die tweede rower bygekom en die drie werknemers op hul knieë gedwing en beveel om af te kyk. Geld asook twee selfone is gevat,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.

’n Derde verdagte het aan die binnekant van die poskantoor-deur gestaan en ’n vierde verdagte buite die deur.

“Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie.”

Die voertuig waarin die rowers ontsnap het, is deur kringtelevisie-kameras afgeneem en teen 22:00 weer in die Brackenfell-omgewing gewaar.

Volgens ’n metropolisie-woordvoerder het beamptes wat misdaadvoorkomingspatrollies in die gebied gedoen het, dié inligting ontvang en na die verdagte voertuig begin soek.

“Beamptes het die voertuig op die R300 naby Kuilsrivier voorgekeer en deurgesoek. Sowat R32 000 is in die voertuig gekry. Die verdagtes kon nie verduidelik waar hulle die geld gekry het nie. Hulle is in hegtenis geneem en na Brackenfell-polisiekantoor geneem,” sê die woordvoerder.

Crous het bevestig dat die twee mans, onderskeidelik 27 en 36 jaar oud en van Philippi, Donderdag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn het. Hulle word tot hul volgende hofverskyning aangehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article