Twee verdagtes is vandeesweek in Plattekloof in hegtenis geneem nadat onwettige perlemoen in hulle besit gevind is.
Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid, sê die verdagtes, ´n 30-jarige en 39-jarige, is Dinsdag 9 September in die parkeerterrein van ‘n winkelsentrum in Plattekloof aangekeer.
Die wetstoepassing se mariene- en omgewingseenheid het die betrokke dag met wetstoepassingsbeamptes van die gebied sowel as Sanparke, die departement van bosbou, visserye en omgewingsake en die Stad se omgewingsbewaringsbeamptes, ‘n gesamentlike operasie uitgevoer nadat ´n wenk ontvang is oor die perlemoen-transaksie, sê Dyason.
Daar is op altesaam 200 geskulpte perlemoen, sowel as ´n voertuig beslaggelê. Die twee verdagtes, albei van Scottsville, is by die Bothasig-polisiekantoor aangehou.





