Die twee wetstoepassingsbeamptes van die Stad Kaapstad wat op aanklagte van korrupsie in hegtenis geneem is, is op R1000 borgtog elk vrygelaat.
Die beamptes is verbonde aan die Stad Kaapstad se Leap-inisiatief (Law Enforcement Advancement Plan) en is op Dinsdag 13 Januarie in ‘n lokval deur die polisie se teen-korrupsie eenheid in hegtenis geneem. Dit volg nadat hulle glo R3 000 van ‘n dronk motoris geëis het.
Die twee het op Donderdag 15 Januarie in die Bellville-landdroshof verskyn.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan TygerBurger gesê hul saak is tot 16 April uitgestel vir verdere ondersoek en dat hulle op R1000 borg vrygelaat is, sowel as op voorwaarde dat hulle nie met die staatsgetuie inmeng nie.
Die beamptes het glo op Maandag 5 Januarie ‘n motoris in Voortrekkerweg, Parow, gestop. Die motoris was glo onder die invloed en in plaas daarvan om hom in hegtenis te neem, het die beamptes glo R3 000 as omkoopgeld van hom geëis, sê die polisie.
Die beamptes het glo ook ´n video van die voorval opgeneem, hul kontakbesonderhede op die motoris se selfoon gestoor, en hom ingelig dat hy die geld in ´n latere stadium aan hulle kan betaal.
Die motoris het hierna speurders by die teenkorrupsie-eenheid genader en ‘n lokval is in die geheim in plek gestel. Die motoris is kontantnote verskaf wat gemerk was en is opdrag gegee om dit aan die beamptes te oorhandig. Die beamptes het die betrokke dag opgedaag soos afgespreek is. Die video wat opgeneem is, is glo voor die motoris van hul selfoon verwyder, waarna hulle die kontant aanvaar het.
Albei verdagtes is op heter daad betrap en daar is op hul selfone, sowel as die gemerkte kontant, wat as bewysstukke sou dien, beslag gelê, sê die polisie.
Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid, het die inhegtenisneming van die twee beamptes bevestig.
Dyason sê die voorval is teleurstellend, maar voeg by dat die Stad nie sulke optrede sal duld nie, en dat die eenheid nou met die polisie in hul ondersoek sal saamwerk.
Die polisie moedig slagoffers van korrupsie aan om korruptes te ontbloot deur na vore te kom sodat ondersoek ingestel kan word.





