Photo of bullet cartridges
Foto ter illustrasie.

Inwoners van ’n sekerheidskompleks in Silversands is geskok oor die drama wat verlede week op hul voorstoep afgespeel het.

Twee mense is verlede Donderdag in Silversands-weg deur onbekende aanvallers doodgeskiet, terwyl ’n 17-jarige gewond is. Die gewonde slagoffer het tussen Bardale Village Fase 1 en Bardale Village Fase 2 neergeval.

’n Inwoner van Fase 1, wat anoniem wil bly, sê sy was onderweg huis toe toe sy die polisie en ’n klomp omstanders sien. “Ek moes omdraai en ’n ompad ry. Al wat ek nog kon sien, is dat daar lyke gelê het wat toegemaak is,” sê die persoon.

Bronne in die gemeenskap van Silversands vertel aan TygerBurger daar is ’n sterk vermoede dat die skietery ’n vergeldingsaanval is vir ’n moord wat oor Paasnaweek in Wesbank plaasgevind het. Volgens ’n gemeenskapsleier was minstens een van die slagoffers ’n getuie in ’n moordsaak en was hulle onderweg van die Blue Downs-hof.

In Wesbank doen gerugte die ronde dat die Horribles-bende vir die skietery verantwoordelik is. “’n Motor het glo die oorledenes van die hof af agtervolg terwyl hulle onderweg Wesbank toe was. Twee mans het glo uit die motor gespring en op die oorledenes geskiet,” sê ’n bron van Wesbank.

Die polisie het bevestig dat sake van moord en poging tot moord ondersoek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article