Annemarie Bezuidenhout
Annemarie Bezuidenhout

Die gemeenskap van Durbanville en omstreke is in rou gedompel nadat twee van sy grootste gemeenskapsleiers in een naweek in afsonderlike omstandighede gesterf het – eers Leon Erasmus, wyd gerespekteerde hoof van die Hoërskool Fairmont, verlede Vrydag na ‘n lang stryd teen kanker, en toe Annemarie Bezuidenhout, ‘n geliefde anker van die Badisa-welsynorganisasie, Sondag na ‘n kort siekte.

Boodskappe van medelye het op Facebook vanuit alle oorde ingestroom.

PASSIE EN VISIE

Badisa het Sondag op sy Facebook-blad die heengaan van Bezuidenhout, direkteur van bemarking, fondswerwing en kommunikasie by Badisa se bestuursprogram, aangekondig. “Met groot hartseer deel ons die nuus van die afsterwe van ons geliefde kollega en vriendin, Annemarie Bezuidenhout.

Annemarie is op Sondag 8 Junie vreedsaam oorlede ná ‘n kort siekte terwyl sy met jaarlikse verlof was. Sy was in haar laaste oomblikke omring deur dié vir wie sy lief is,” lui die Facebook-inskrywing.

“Annemarie was meer as net ‘n leier – sy was ‘n lojale vriendin, ‘n toegewyde voorvegter en ‘n helder lig in ons organisasie. Haar pad met Badisa het in 1988 begin as maatskaplike werker by die Durbanville-kinderhuis (1 April 1988 tot 31 Julie 1991).

“In 1998 het sy teruggekeer as bestuurder van die kinderhuis (1 Mei 1998 tot 31 Maart 2009), en sedert 2009 het sy haar passie en visie met oorgawe in die Badisa-bestuursprogram ingespan. Deur die jare het Annemarie nie net Badisa se handelsmerk help vorm en versterk nie, maar ook diep spore getrap in die stories wat sy vertel het en die verhoudings wat sy gebou het,” lui die inskrywing.

“Sy het met grasie en nederigheid leiding geneem. Sy laat ‘n nalatenskap van vriendelikheid en uitnemendheid na – iets wat sal voortleef in die talle lewens wat sy aangeraak het. Annemarie word oorleef deur haar twee dogters, haar ma, broer en uitgebreide familie,” lui die inskrywing.

NOG ‘N BADISA-STAATMAKER

Bezuidenhout se afsterwe kom skaars vier maande nadat nóg ‘n Badisa-staatmaker en jare lange vriendin van haar, Juanita Beukes, en haar twee tienerkinders in ‘n botsing by die kruising van die Lichtenburg-pad (R312) en die R304 buite Durbanville gesterf het. Beukes (49), bestuurder van maatskaplike dienste by Badisa se bestuursprogram, het vir 22 jaar by Badisa gewerk (“Badisa groet Juanita Beukes“, TygerBurger 19-02).

Annemarie Bezuidenhout

Johanna Strauss, bestuurder van die Durbanville-kinderhuis, het gesê Bezuidenhout “het soveel mense se lewens geraak met haar omgee vir ander”.

“Die personeel wat by die kinderhuis saam met haar gewerk het praat met groot deernis van haar passie vir ons kinders, en haar uitsonderlike leierskap. Haar passie om Badisa volhoubaar te bedryf en hul beeld te versterk, wys haar uitsonderlike vermoë om groei te bevorder en met ‘n sterk visie strukture te verbeter.

“Annemarie, die personeel en kinders van Durbanville-kinderhuis gaan jou mis; jy bly agter in ons harte en gedagtes. Ons innige medelye met haar familie en geliefdes,” het Strauss gesê.

Onder die talle ander boodskappe van medelye op Facebook was dié van Jade Cleophas, ‘n voormalige kinderhuiskind: “Rus in vrede, my liefste Tannie Annemarie. Dankie vir jou omgee en liefde wat jy aan ons bewys het en dankie vir die groot rol wat jy in my lewe gespeel het. Ek sal vir ewig dankbaar wees. Vir ewig in my hart.”

Stephné Botha het namens die Innovation for the Blind-organisasie gesê: “Annemarie was nie net ‘n gerespekteerde kollega nie, maar ook ‘n dierbare vriendin vir baie van ons. Haar opregte betrokkenheid, deernis en toewyding het ‘n blywende indruk op ons organisasie gemaak. Sy het altyd met sagtheid en integriteit opgetree en haar menswees het ander bemagtig en bemoedig.

“Annemarie het ‘n besondere gawe gehad om mense en stories op ‘n betekenisvolle wyse te verbind – altyd met respek en empatie. Haar nalatenskap leef voort in die lewens wat sy aangeraak het, en in die verhouding wat ons deur die jare met haar opgebou het. Ons is dankbaar dat sy ook deel van ons pad was. Ons dink aan haar familie, vriende en almal by Badisa in hierdie tyd van rou, en bid vir krag en vertroosting.” Reëlings vir ‘n gedenkdiens was teen druktyd nog nie bekend nie.

Die afsterwe van Erasmus verlede Vrydag is ook wyd betreur. Medelye het van oraloor, selfs vanuit Denemarke, ingestroom. Erasmus het in Januarie 2017 die leisels by die Hoërskool Fairmont as skoolhoof oorgeneem en was baie geliefd onder die leerders en die skoolgemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article