Goodwood Magistrate's Court
Court B at the Goodwood Magistrate’s Court.

Twee van die sewe vermeende afpersers wat onlangs in ’n wilde jaagtog en toe ’n oor-en-weer- skietery met die polisie in Bothasig betrokke was, het vandag (Woensdag 9 Oktober) in die Goodwood-landdroshof verskyn.

Die skietery het op 25 September naby Bosmansdam- en Wylandweg in Bothasig plaasgevind.

Die groep was die betrokke dag deur die polisie vanuit Dunoon agtervolg, waar hulle glo winkeleienaars afpers.

’n Jaagtog het uitgebreek waarna daar glo met ’n aanvalsgeweer op die polisie geskiet is.

Die minibustaxi waarin die verdagtes was is tot stilstand gedwing en lede van die polisie se taakmag, verbonde aan die provinsiale operasionele bevelsentrum, het teruggeskiet. Drie van die verdagtes is dood vier ander slegs gewond.

LEES | Drie dood tydens oor-en-weer skietery met polisie

Die vier oorlewendes het mediese behandeling in die hospitaal ontvang. Twee van hulle, Sibalole Phawula (32) van Joe Slovo Park en Masixole Matyhila (28) van Mitchells Plain, is reeds ontslaan.

Hul medeplegtiges, Sinoxolo Keteyi (23), ook van Joe Slovo Park en Andile Pama (28) van Mfuleni, ontvang steeds mediese behandeling in die hospitaal. Die Wes-Kaapse polisie het vroeër vandeesweek aan TygerBurger bevestig dat twee ontslaan is en nog twee behandeling in die hospitaal ontvang. Phawula en Matyhila het vandag in Hof B by die Goodwood-landdroshof verskyn.

Luidens die klagstaat, wat TygerBurger onder oë gehad het, word al vier verdagtes aangekla van poging tot moord, die besit van’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ’n onwettige vuurwapen en die besit van ammunisie. Die saak is tot 18 Oktober uitgestel vir borgtog aansoek. Die saak word deur die Bothasig-polisie se speurders ondersoek.

Die staatsaanklaer in die saak is Tracey Adriaanse.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek die dood van die drie persone en die beserings van die res. ’n Geregtelike doodsondersoek is ook geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article