Chris Horne op ’n 1957 John Deere FOTO’S: Desirée Rorke


Ná drie jaar sal die WP-Veteraantrekker- en enjinklub eersdaags vir die eerste keer ná die pandemie weer skou.

Aangebied deur die Wes-Kaapse klub, vind die skou in Augustus op Villiersdorp plaas, waar klubs vanaf Clanwilliam tot in George bymekaar gaan kom om uit te stal en mee te ding.

Daar is groot opgewondenheid onder klublede, wat flink besig is om trekkers te poets en enjins aan die loop te kry.

“Almal is opgewonde en ’n mens kan dit voel. Ons sien uit na die eerste groot samesyn ná die Covid-pandemie,” sê Hannes Rheeder, voorsitter van die WP- Veteraantrekker- en enjinklub.

In die De Jong Museum, hul klubhuis in Kraaifontein, pronk menigte ou trekkertjies wat opgedollie word vir die groot brag.

“Trekkers, gerestoureer en ongerestoureer, en enjins wat ingeskryf word vir die skou, word die Vrydag beoordeel en die prysuitdeling vind die Saterdag plaas.

“Daar sal ook allerlei ou plaasinstrumente en ou vragmotors op skou wees vir die publiek om na te kyk,” sê Rheeder.

Die trekkerliefhebber Chris Horne van Bellville sê die stokperdjie is nie net lekker nie maar het ook ’n goeie doel.

“Dit gee my groot genot om die ou trekkers in werkende toestand te hou vir die nageslag,” sê hy.

Jurie Swart van Joostenbergvlakte het betrokke geraak by die klub toe sy vrou vir hom ’n “stukkende” Ferguson TEE20 1954 trekker (Vaaljapie) gekoop het vir sy verjaarsdag.

“Ek is nie ’n mechanic nie en ek haat dit om my hande vuil te kry, maar met baie hulp van ander lede het ek die enjin weer reggekry en nou loop hy mooi.

“Vir my gaan dit nie soseer oor die meganiese werk nie, maar ook die sosiale aspek van die groep,” sê hy.

Die skou vind op 12 en 13 Augustus op die skougronde in Villiersdorp plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article