Die Parow-treinstasie is verlede week ná jare weer heropen.
Die heropening het op Dinsdag 31 Januarie plaasgevind.
Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sê in ’n verklaring die heropening van dienste aan passasiers op die noordelike spoorlyn volg ná maande van opknapwerk weens vandalisme in die grendeltyd.
Prasa sê die trein tussen Kaapstad en Bellville sal voortaan daar stilhou.
Zino Mihi, woordvoerder, sê sommige van die opgeknapte fasiliteite sluit openbare toilette, die mure sowel as die herstel van die oppervlakte van drie perronne, in. Mangate is toegemaak en hakiesdraad is om die grens van die kaartjiekantoor aangebring en uitgebrei.
“Dié sleutel-elemente is ’n poging om te verseker dat die stasie funksioneel is tot voordeel van die passasiers. Die opening van die stasie volg ook die heropening van die treindiens tussen Bellville en Eersterivier op 16 Januarie.
“Die Parow-stasie is een van die besigste treinstasies in die noordelike voorstede, met hoë volumes passasiers. Dit is geleë langs ’n ligte nywerheidsgebied, skole, tersiêre instansies, hospitale en winkelsentrums,” sê Mihi.
Die heropende diens sal voorlopig net op weeksdae beskikbaar wees.
“Ons sal verdere inligting verskaf soos ons dit monitor en die dienste verbeter,” sê Mihi.
Franchesca Walker, wyksraadslid, het die heropening verwelkom.
“Die heropening van die treinstasie sal beslis die lewe van ons jeug, wat die North Link-kollege bywoon, vergemaklik.
“Dit kan duur kan wees om met taxi’s te pendel, wat hulle gedwing was om te doen omdat die stasie gesluit was.”
Sy sê die gemeenskap is verheug oor die heropening en verwelkom dit.
“Hulle het hul blydskap hieroor op WhatsApp-groepe ook te kenne gegee,” sê Walker.
Sy sê die heropening sal beslis die breë gemeenskap bevoordeel en dat dit ’n glimlag op talle mense se gesig in die gemeenskap en sentrale sakekern sal laat.
“Die Parow-stasie was nog altyd een van die besigste stasies en dit is meer bekostigbaar om met treine te pendel,” sê Walker.
Sy het onlangs met Prasa en Transnet-beamptes vergader oor die toekoms.





