Nasionale toutrekkers van oor die land heen het verlede week hul SA kleure ontvang voor hul vertrek Maandag na Holten in Nederland, waar die Toutrek-wêreldkampioenskap vandeesweek plaasvind.
Die oorhandiging het verlede Vrydagaand in die Highlander-saal in Brackenfell plaasgevind.
Altesaam 28 groepe in die Protea- en Gazelles-spanne (nasionale B-span) sal Suid-Afrika in Holten verteenwoordig.
Verskillende ouderdomsgroepe en gewigte van die Gazelles sal in die ope afdeling meeding, terwyl die nasionale spanne in die geslote afdeling trek.
Suid-Afrika is tans vyfde op die wêreldranglys vir die sport ná Engeland, Nederland en Swede. Switserland is tans die wêreldkampioen.
“Ons hoop om vanjaar ons posisie met een plek te verbeter en met minstens drie medaljes huis toe te kom,” sê Bennie Geldenhuys, visepresident van die Suid-Afrikaanse Toutrekfederasie.
Toutrek, wat tot in 1920 nog ’n Olimpiese sportsoort was, het in 1968 weer as formele sport in Suid-Afrika posgevat en sedertdien sy status as ’n sport van lewenskragtigheid en romantiek herwin.
“Toutrek is baie meer gewild in Europa en is selfs een van Switserland se nasionale sportsoorte. Die sport groei egter tans vinnig op skolevlak in Suid-Afrika met sowat 3 500 jeug-toutrekatlete in die land. Die jeug- toutrek-kampioenskap is tans ook die grootste in die wêreld,” sê Geldenhuys.
“Dis ook ’n sport vir oud en jonk waarin die hele gesin – ma pa en kinders – saamtrek.”
Denis Joseph, ’n lid van die parlement se sport- en kultuurportefeulje, het die spanne voorspoed toegewens.
By die geleentheid het hy gesê meer erkenning moet aan dié sportsoort in Suid-Afrika gegee word.
“Dit is ’n antieke sport met ’n ryk geskiedenis in die wêreld. Op die oog af lyk dit na ’n eenvoudige sport van brute krag, maar dit is eintlik ’n dissipline waarin die psige van die mens getoets word.”





