Vir die afgelope 13 jaar kry behoeftige seniors jaarliks ’n groot verrassing.
Tydens Kersfees, wanneer baie besonder afgesonder voel, kry hulle ’n spesiale geskenk – ’n bak vol lekkernye.
Vir baie is dit hul enigste geskenk in jare.
Vir ander die eerste stukkie bederf in maande.
Maar die hele projek is nou in gedrang omdat daar nie tans genoeg broodnodige donasies gekry is nie.
By die Toebroodjies vir Oues-projek (Top), onder leiding van Werner Schwella, word die fokus verskuif na seniors wat minder as R3 000 per maand verdien.
Dit is mense van alle grense heen, met party wat jare lank vir Transnet gewerk het en nou ’n karige pensioen verdien en ander wat maandeliks ure lank by Sassa in die ry moet staan.
“Dit is ongelooflik om daai bak vir ’n behoeftige senior burger te gee,” sê Schwella oor party van die tonele wat al voor hom afgespeel het. “Die trane rol soms.”
Jaarliks word meer as R30 000 ingesamel om sowat 400 tweeliter-bakke vol lekkergoed te pak. Elke bak met 13 items is dieselfde, sodat mense nie stry kry nie.
Vrywilligers het altyd by die Sassa-kantore in Bellville gaan uitdeel, waar hulle spesifiek gevra het vir mense wat bo 60 is en onder R30 000 ’n maand verdien.
Deesdae gaan die groep egter na verskillende tehuise, wat deur die staat en privaat besit word, en versprei dit daar.
Die nood is groot.
Onlangs het ’n tehuis in Kraaifontein die bakke uitgepak sodat elke behoeftige iets kon kry.
Toebroodjies
TOP het eers begin as ’n toebroodjie-projek. Schwella, wat as raadslid gewerk het, het gehoor dat daar ’n behoefte aan toebroodjies is vir ouer mense wat kliniek toe gaan, sodat hulle iets kan eet terwyl hulle pille moet drink.
Die projek het egter doodgeloop en die groep vrywilligers het hulle op die TOP-projek toegespits.
Oor die jare is byna 200 000 bakke gepak en uitgedeel. Vrywilligers kom vroeg in Desember in Chrismar in Bellville bymekaar om die items in te pak en word gewoonlik met ’n worsbroodjie beloon.
Die geld vir die projek bly egter jaarliks ’n probleem. Schwella hou deeglik boek van die inkomste en uitgawes en publiseer dit ook op sy daaglikse nuusbrief wat hy uitstuur.
Daar is egter tans nog net sowat R1 500 geskenk van die mikpunt van R32 500 wat Schwella gestel het.
In die verlede het hulle altyd die mikpunt wonderbaarlik behaal, maar dis gewoonlik eers op die nippertjie of gebeur selfs nadat Kersfees gevier is. Hy en ander vrywilligers bly egter vol hoop dat dit gaan gebeur.
- Kontak wernerschwella2401@gmail.com indien jy wil skenk of andersins betrokke wil raak.





