Dit is die tyd wanneer Timothy (Timmie) Cookson na sy gunsteling-televisieprogram wil luister. Hy moet luister, sien, want hy is blind.
Timmie is met swak sig gebore en moes sy hele skoolloopbaan, wat hy aan die Athloneskool vir blindes spandeer het, dik brille dra. Weens gloukoom het hy geleidelik al swakker gesien en het uiteindelik heeltemal blind geword. “Hier rondom 2008, 2009 het ek besef die bril gaan ook nie meer help nie en ek het heeltemal blind geword. Ek het altyd baie naby aan die televisie gesit en nog altyd grootdruk gelees. Wanneer ek na die televisie luister hou ek daarvan dat alles om my stil is, want ek is nogal baie afhanklik van die klank van die televisie. So weet ek wanneer sekere musiek op die agtergrond is, daar besig is om onheil te broei of iets.
“Dis hoekom ek so baie van 7de Laan hou, want hoewel van die karakters soms ander tale praat, kan ek steeds die storie volg. So elke nou en dan is daar ’n toneel wat ek dink ’n bietjie sig sal nou nie sleg gewees het nie, maar dan gaan ek net weer aan,” sê Timmie.
Carte Blanche en Special Assigment was nog al die jare van my voorste programme. Waar dit by flieks kom, hou ek van flieks wat op ware gebeure gegrond is.”
“Een van my drome is nog om my eie boek te skryf. Van my familie en vriende vra elke keer hoekom ek nog nie ’n boek geskryf het nie. Ag, ek moet seker net begin,” sê hy.




