Employees at TikTok say the company had a

Rafael Henrique/SOPA Images/LightRocket via Getty

Sy daaglikse werk is so ver verwyder van sy TikTok-persona soos Timboektoe en Belhar, maar die gewilde marley_marlz18, oftewel Marlon Patrick, hou daarvan so.

Patrick se TikTok-karakter, Lil Bro, is so gewild dat hy reeds 1,4 miljoen volgelinge op dié gewilde toepassing het.

Om ’n idee te kry hoe gewild Patrick se video’s is, moet in ag geneem word dat die bekende Afrikaanse sanger Jo Black net meer as 63 000 volgelinge het.

Hoe het ’n forensiese analis van Belhar so gewild geword? Patrick sê sy ma het in 2020 gesterf en hy het deur ’n moeilike tyd in sy lewe gegaan.

“Ek wou mense laat lag en help wat deur dieselfde hartseer as ek gegaan het. Ek het gedink as ek ten minste iemand kan laat vergeet dat hulle die wêreld op hul skouers dra, dan was ek gelukkig. So, in ’n sekere mate het TikTok my ook deur my treurproses gehelp,” sê Patrick.

Die ondeunde Lil Bro is die ster op Patrick se rekening, maar hy is heeltemal anders as sy skepper.

“Ek was glad nie ’n stout kind nie. Ek het net eendag deur die TikTok-filters gegaan en dadelik van die “funny me” gehou. Dit het my baie laat dink aan ’n stout seuntjie. Ek het video’s van Lil Bro opgelaai en dit het soos ’n veldbrand versprei. Die aantal ondersteuners wat ek oor die afgelope jaar gekry het, was amazing en die hele ervaring maak my nederig. Ek geniet die feit dat mense hulself in sommige van my video’s kan herken. Dit was die doel, om mense te wys hoe eenders ons almal maar eintlik is,” sê Patrick.

Hy probeer om vyf video’s per week op te laai en sê hy wil nog meer mense bereik.

“Ek sal daarvan hou om nog meer mense met my video’s te bereik en hulle te laat lag. Ek voel ons almal kan doen met ’n bietjie komedie in ons lewe. Verder sal ek ook daarvan hou om buite TikTok te groei en miskien televisie uit te toets. Dit sal darem baie cool wees.

“My familie is my grootste ondersteuners. Hulle laat weet my gereeld wat mense van my video’s dink en dat almal baie graag vir Lil Bro wil ontmoet.

“Ek dink nie die TikTok-sukses sou sonder my familie se ondersteuning moontlik gewees het nie. So, vir hulle is ek ewig dankbaar,” sê Patrick, wat ook onlangs ’n regsgraad deur Unisa verwerf het.

  • As jy saam met 1,4 miljoen ander wil lag en dans, volg Patrick by marley_marlz18.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article