Jerry Watt die stigterslid van The Rockets het gisteraand afgesterf. Foto Ian Landsberg


Kapenaars het vanoggend wakker geword met die hartseer nuus dat een van hul geliefde musikale ster, Jerry Watt, oorlede is. 

Watt, die leier van die immergewilde The Rockets-orkes het gister aan kanker beswyk.

Hy was 69.

Nuus van sy sterfte is laat Donderdagaand op The Rockets se amptelike Facebook-blad aangekondig.

“Jerry Watt, leier van The Rockets, man, pa, seun, broer en oupa het vanaand gesterf, omring deur familie. Hy het dapper tot die einde geveg. Sy nalatenskap sal vir ewig deur sy musiek lewe soos hy altyd gesê het: ‘Let the music play.’ Die groep hou Sondag ’n swanesang-optrede vir nie net vir Watt nie, maar ook vir die groep self.”

Luidens die Facebook-blad gaan die vertoning steeds voort.

Intussen stroom huldeblyke van oral in.

Bones de Light, een van die oorspronklike lede van The Rockets en ’n groot vriend van Watt, het in ’n lang plasing op Facebook sy hartseer uitgespreek.

“Dit is met hartseer harte dat ek en my familie totsiens aan my broer sê. Ons het verlede week saam tyd spandeer en nooit het ek gedink dit sou die laaste keer wees nie. Ons het ’n lewe vol musiek gelewe en baie memories gemaak. Ons het musikale broers geword toe ons saam in die Fantastics was en later saam by The Rockets aangesluit het.

“Baie jare van gigs, road trips, repetisies, lag, veranderinge aan die orkeslede en tyd met ons familie is gedagtes wat ek sal koester. Saam het ons totsiens gesê aan ons The Rockets-broers soos Cliffie, Frankie en Molly en vanaand sê ek totsiens aan jou. Mag hulle op jou wag en mag julle saam betowerende musiek maak,” lui De Light se inskrywing.

Daniel van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk, skryf Watt het ’n innemende geaardheid gehad.

“Die DAK-netwerk het die afgelope drie jaar baie nou met hom en The Rockets saamgewerk. Hulle was ons band van keuse en het by verskeie gesellighede van ons opgetree. Jerry het ’n innemende persoonlikheid gehad wat hom ’n baie geliefde vriend en kollega gemaak het. Hy was nooit te besig om tyd aan my af te staan om voornemende funksies en geleenthede te bespreek nie,” skryf Van Wyk

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article