’n Opkomende tennisster van Welgelegen het verlede week Suid-Afrika se naam hoog gehou in Noord-Afrika, waar sy aan die All African Team Championships deelgeneem het.

Megan van Vuuren het Suid-Afrika se nasionale o.14-span by dié kompetisie verteenwoordig. Die toernooi het verlede Dinsdag begin en het Saterdag ten einde geloop. Die wenners sal later vanjaar aan die Wêreld Junior Tennis-eindstryd deelneem.

As 12-jarige is Megan tans die jongste speler in die span. Sy was die nommer een o.14-speler in die land ten tyde van die keuring vir dié span, sê haar ouers.

Petro van Vuuren, haar ma, het verlede week aan TygerBurger gesê Megan speel tennis sedert sy ses jaar oud is.

“Sy het by haar suster, Angelica, die liefde vir tennis gekry aangesien sy heeldag langs die baan moes sit. Angelica is drie jaar ouer en het reeds op driejarige ouderdom afrigting begin ontvang, sê Van Vuuren.

“Sy het by haar suster, Angelica, die liefde vir tennis gekry aangesien sy heeldag langs die baan moes sit. Angelica is drie jaar ouer en het reeds op driejarige ouderdom afrigting begin ontvang, sê Van Vuuren.

Megan en haar suster oefen voltyds by ’n tennis-akademie, met die doel om in die toekoms professionele tennisspelers te word, sê sy.

“Albei van hulle kry tans tuisonderrig om sodoende aandag aan hul oefening te gee.”

Die Tennis Suid-Afrika-ranglys word bepaal deur die aantal toernooie wat deur die jaar in Suid-Afrika gespeel word en dit is dus belangrik om reg oor die land na belangrike toernooie te toer, verduidelik Van Vuuren.

Droom om no. 1 te word

Die doelwit is om in die buiteland te gaan kompeteer om sodoende ondervinding op te doen en kragte te meet met spelers van reg oor die wêreld en om raakgesien te word deur internasionale borge. Megan is welbekend vir haar aanvallende spelpatroon en van sesjarige ouderdom af domineer sy absoluut haar ouderdomsgroep en selfs hoër. Sy speel meestal in ouer ouderdomsgroepe, sê haar ma.

“Sy wil baie graag internasionaal speel, maar in hierdie stadium het ons finansiering nodig, aangesien dit ontsaglik duur is.

“So, ons is ernstig op soek na borge sodat ons dit in werking kan bring. Haar droom is om nommer een in die wêreld te word,” sê Van Vuuren. Tot dusver het Megan Suid-Afrika reeds drie keer verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article