CapeGate Shopping Centre Photo: Carina Roux


Die Telkom-winkel in die CapeGate winkelsentrum is verlede week Dinsdagaand rot en kaal besteel in ’n gewapende rooftog.

Volgens Zoë Ganz bemarkingsbestuurder van die winkelsentrum, het vier mans die winkelsentrum om 18:57 betree.

Hulle het eers die kleedkamer besoek en daarna die Telkom-winkel om 19:05 binnegegaan.

Hulle het sewe minute later uitgekom en op die vlug geslaan.

Volgens die Brackenfell-polisie se bevelvoerder, kol. Jacobus Marthinus, was die rooftog goed beplan.

“Die rowers, van wie twee gewapen was, het die winkeldeure toegemaak en die ligte afgeskakel. Kliënte wat nog in die winkel was, is op die vloer gedwing en die twee winkelassistente is agter in die winkel vasgebind.”

Marthinus sê die totale waarde van die gesteelde goedere is nog nie vasgestel nie, maar volgens ’n betroubare bron is al die selfone in die stoorkamer gebuit.

“Beskikbare videobeeldmateriaal wys hoe die rowers in ’n Mercedes- Benz wegry wat naby een van die ingange geparkeer was. Die nommerplate op die voertuig is gekloon,” sê hy.

Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article