Dis veral vroue wat onder die aggressiewe bestuurstyl van minibus-taxibestuurders op die Bottelarypad deurloop.
Ná ’n noue ontkoming met ’n minibus-taxibestuurder op dié pad is Natasha Burger van Brackenfell nou banger as ooit om daagliks daar te ry.
Burger het een oggend tydens spitsverkeer in die rigting van La Belleweg gery toe die voorval plaasgevind het. Sy het twee passasiers in haar voertuig gehad.
“Voor my was ’n groot, lang vragmotor wat die sirkel baie stadig ingegaan het om sy draai te kry. Ek was bewus van ’n wit afleweringsbakkie agter my. Ons albei het geweet die vragmotor gaan oor twee bane om die sirkel ry,” sê Burger.
“Skielik links van my byna om die sirkel verskyn ’n taxi aan my linkerkant wat die vragmotor links wou verbysteek, maar rem aangeslaan het omdat die vragmotor so ver na links sy draai geneem het. Die volgende oomblik swaai die taxi toe regs na my kant toe. Ek was reeds baie na aan die vragmotor en wou loer of ek veilig verby kan gaan toe die taxi tussen my en die vragmotor van links af kom indruk het. Daar was seker ’n halwe meter tussen my en die vragmotor. Hy ruk toe ’n paar keer sy stuurwiel na my kant toe om my uit die pad te stamp.
“Ek ys om te dink wat sou gebeur het as hy my getref het. Ek sou voor die aankomende verkeer ingeskiet gewees het. Ek het geen twyfel dat hy dit doelbewus gedoen het nie. Hy wou my stamp. Die twee vroue saam met my in die kar het so groot geskrik, want dit was aan hulle kant. Die een sê as sy haar arm uitgesteek het, was dit morsaf.
“Toe die taxibestuurder sien hy kon nie in die klein spasie verby my druk nie, het hy links om die trok oor die sypaadjie gejaag. Ek het opgelet dat die voertuig agter my sommer spoed verminder het; hy het seker gesien hier kom ‘n ongeluk.
Burger sê die ervaring was skrikwekkend.
“Dis asof hy geen agting gehad het vir die feit dat hy my kon laat verongeluk nie. Dis ontstellend om te dink dat hy geen ontsag vir ander motoriste of sy eie passasiers se lewe het nie.”
Ook An Roux, wat die Bottelarypad al 22 jaar tussen Brackenfell en Elsenburg ry, sê die pad is nou gevaarliker as ooit.
“In die afgelope drie maande is daar baie meer minibus-taxibestuurders en die meeste sal jou van die pad af druk as jy nie voor hulle padgee nie. Hulle jaag tot teen jou kar se agterstewe, en jy het geen keuse as om oor die geel of rooi lyn te beweeg nie. Dis baie gevaarlik, want daar is ook baie fietsryers en voetgangers op die pad wat so raakgery kan word. Ek is baie bang vir hulle en gee maar altyd pad. Hulle is intimiderend en sal vloek en skel as jy nie vinnig genoeg pad gee nie. Ek is baie bang vir hulle en sê maar ja en amen,” sê sy.
Volgens haar stop die taxibestuurders ook nie by die Botfontein- aansluiting nie en ry sonder versuim oor die stopstraat voor aankomende verkeer in.
“Hier is geen stopteken vir verkeer op die Bottelarypad nie, en motoriste moet uiters versigtig wees om nie in dié taxi’s vas te ry nie.”
Albei vroue sê dat daar baie min wetstoepassing op die pad plaasvind, waar geen reg en orde gehandhaaf word nie.
“Ek ry elke dag die pad en sien bykans nooit ’n verkeersvoertuig op patrollie nie. Daar was vroeër vanjaar ’n groot padblokkade by die Bottelary-aansluiting waar dosyne taxi’s afgetrek is, maar dit was eenmalig,” sê Roux.
Volgens haar is daar deesdae baie meer ongelukke op dié pad.
“Daar is ook baie jong studente, wat onervare bestuurders is, wat daagliks die pad Stellenbosch toe moet aandurf. Dis kommerwekkend om die minste te sê.”
Meer as 100 boetes al uitgegee
Kevin Jacobs, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersafdeling, sê daar is sedert Februarie vanjaar al 1 241 verkeersboetes aan taxi-bestuurders uitgereik, vir onder meer onpadwaardige voertuie, verkeersoortredings en taxi’s wat sonder die nodige permitte ry. Volgens Jacobs is die boetes in spesiale operasies en ook daaglikse wetstoepassing uitgereik. In een operasie is daar ook 43 taxi’s geskut. Die Stad se vervoertoepassingseenheid doen egter nie spoedvervolgings nie, sê Jacobs.
Rhynhardt Bresler, wykraadslid vir Brackenfell en Kraaifontein en ook ’n lid van die Stad se veiligheidsportefeulje, sê motoriste kan in sulke gevalle soos bo beskryf ’n strafregtelike klag van roekelose en nalatige bestuur teen ’n taxibestuurder by die polisie open. Motoriste kan verklarings aflê asook dashcam-beeldmateriaal aan die polisie beskikbaar stel vir verdere ondersoek.
Wetgewing verhoed egter die verkeersdepartement om sulke klagtes te ondersoek.
“’n Oortreding moet voor ’n verkeersbeampte gepleeg word vir ‘n boete om uitgereik te word,” sê Jacobs.





