‘n Vrou is vanoggend dood toe sy op die Jakkelsvlei-brug in Valhallaweg deur ‘n taxi raakgery is.
Die bestuurder van die taxi, wat glo aan die verkeerde kant van die pad gery het, is op die toneel in hegtenis geneem.
Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die 63-jarige vrou op die brug gestap toe sy getref is.
“Die vrou was onderweg van Kalksteenfontein na Bonteheuwel toe sy getref is en op die toneel beswyk het,” sê Adonis.
Adonis sê ‘n 66-jarige man is in hegtenis geneem en gaan Woensdag in die Bishop Lavis-landdroshof op klagte van strafbare manslag verskyn.
Die plaaslike raadslid Angus McKenzie het die voorval veroordeel en gesê hulle het al telkemale taxi-bestuurders gevra om nie in spitstyd so roekeloos te bestuur nie.
“Baie taxi-bestuurders gebruik Bonteheuwel as ‘n deurweg na ander bestemmings. Ek gaan hierdie saak volg tot aan die einde, want dis ‘n skande soos die taxi’s hier aangaan,” sê McKenzie.
Hy het die polisie-, wetstoepassings- en verkeersbeamptes geprys vir die spoedige optrede ná die voorval.





