As seniors en organisasies wat al langer as 20 jaar met tannie Linda Louw te doen kry, gedink het sy gaan nou ná haar aftrede stilsit, gaan hulle baie lank wag.
Sy is die voormalige bestuurder van die Tygerberg-dienssentrum in Parow en ’n inwoner van Jabulani-aftreeoord in Goodwood, maar Dinsdae kom sy na die dienssentrum om oefeninge vir die senior burgers aan te bied en ’n grappie of twee te deel.
Volgens Anne-Marie Watt, die bestuurder van die dienssentrum, is fisieke en geestelike aktiwiteite baie belangrik vir seniors en bly dit ’n integrale deel om te voorkom dat hulle vroeg oud raak.
“Baie van hulle is nog geanker in hul Skepper en hulle het steeds ’n rol om in die gemeenskap te vervul. Aangesien ek nou al so lank saam met die seniors kom, weet ek wat hulle laat lag en hoe om hulle die bene te laat beweeg. Oefensessies is baie verrykend as dit voorafgegaan word deur die Woord te bedien om jou gees te voed,” sê tannie Linda.
Die versekering dat die senior burgers ’n vriend het wat hulle verstaan, hulle lief het en met hulle sal wees tot in die gryse ouderdom, gee elkeen hoop en vertroue vir die dag. “Die feit dat hulle gedurig met die Vriend kan praat (1 Kor. 5:17) voorkom die alleenheid waarmee baie worstel,” sê tannie Linda.
“Ná ’n oefensessie saam met tannie Linda is die pyne en stywe spiere iets van die verlede en die gees gevul met vreugde. Ons is die Here baie dankbaar vir tannie Linda, wat ons nie net met liggaamlike oefeninge ‘voed’ nie, maar ook geestelik.” sê Watt.





