Kore van die noordelike voorstede boer behoorlik onder die topkore van die ATKV-Applous 2025-kompetisie, wat verlede week bekendgemaak is.
Die ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika.Vanjaar word die eindstryd vir die 48ste keer aangebied – van 30 Julie tot 2 Augustus in Pretoria.
‘n Indrukwekkende 292 kore het vanjaar ingeskryf. Die ATKV-Applous-span, vergesel van ‘n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, het in Mei na 18 bestemmings reg oor Suid-Afrika en Namibië gereis om die topkore te identifiseer.

Volgens Renette Bouwer, beoordelaar van die landswye streeksfeeste, verhef ATKV-Applous Suid-Afrikaanse koorsang tot nuwe hoogtes.
Oudergewoonte is die kore van die laerskole Durbanville, Gene Louw en Eversdal onder die finaliste in die afdeling vir prestige laerskoolkore. Hulle ding vanjaar ook teen die kore van die Laerskool Elarduspark in Pretoria en die Table View Primary School in dié afdeling mee. Dié eindstryd vind op Donderdag 31 Julie plaas.

Die koor van die Laerskool Totius in Bellville is ‘n finalis in die meriete-afdeling vir Afrikaanse laerskoolkore, wat op Woensdag 30 Julie plaasvind.
Die meisieskoor van die Hoërskool Stellenberg, ook ‘n ou bekende in die eindstryd van dié koorkompetisie, gaan sy slag in die afdeling vir meisieskore in die prestige hoërskole-afdeling teen die kore van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria en die Eunice High School in Bloemfontein wys. Die seunskoor van die Hoërskool Tygerberg in Parow het in die meriete-afdeling vir hoërskoolkore na die eindstryd deurgedring, maar die koor het intussen aan die kompetisie onttrek.







You must be logged in to post a comment.