Talle nuwe projekte word deur die Stad Kaapstad vir Kuilsrivier geoormerk.
Johannes van der Merwe, voorsitter van subraad 21, het verlede week met TygerBurger gesels oor dié veranderings en die konsepbegrotings vir die 2023/24-boekjaar, wat tans oop is vir publieke deelname.
Die getal subrade onder die Stad Kaapstad is in Februarie amptelik van 24 tot 21 verminder.
Subraad 21, waaronder die grootste gedeelte van Kuilsrivier (wyke 11 en 19) val, het nou nie meer drie wyke nie, maar sewe.
Wyk 14 (onder meer Jagtershof), wat voorheen deel van subraad 22 was, is nou ingesluit.
Die gedeelte van Kuilsrivier aan Brackenfell se kant in Wyk 8 (waaronder Soneike) bly deel van subraad 2.
Subraad 21 sluit nou Blackheath, Blue Downs en Eersterivier, asook Macassar tot digby Firgrove, in. Lorraine Frost is, soos voorheen, die subraadbestuurder.
Die Stad se boekjaar strek van 1 Julie tot 30 Junie. Kapitaalprojekte strek meestal oor ’n termyn van drie jaar.
Van der Merwe sê die Kuilsrivier-sakekern is geoormerk vir ’n spesiale projek met geld wat bewillig is vir kringtelevisiekameras.
’n Eenmalige R3 miljoen is hiervoor begroot in die komende boekjaar.
“Die opknap van die munisipale kantoorgebou in Kuilsrivier, waarmee reeds begin is, sal oor die volgende twee jaar afgehandel word,” sê hy.
Die begroting vir die opknapping beloop R3,6 miljoen in 2022/23 en sowat R46,4 miljoen in 2023/24.
“Die Rietvlei-pompstasie, wat ’n groot probleem is, word ook oor die volgende drie jaar opgeknap,” sê Van der Merwe.
Die begroting vir die pompstasie beloop R164 miljoen oor drie jaar, waarvan R27,5 miljoen vir 2022/23 is.
Ander groot projekte in die vooruitsig sluit in:
. Die opknap van die Zevenwacht-reservoir en waternetwerk (R1,6 miljoen in die komende boekjaar, nagenoeg R18 miljoen oor drie jaar);
. Die verlenging van Saxdownweg tussen Langverwacht en Van Riebeeckweg (R34 miljoen in 2022/23, R84 miljoen oor drie jaar);
. Die verlenging van ’n gedeelte van die Zevenwacht Link-pad tussen Van Riebeeck- en Albert Philanderweg, om sodoende met die Buttskopweg-treinspoorkruising weg te doen (R4,4 miljoen in 2022/23, R92,4 miljoen oor drie jaar);
. Die opknap van Wesbank se openbarevervoerinterseksie (R1 miljoen in 2022/23, R19,5 miljoen oor drie jaar);
. Die Nooiensfontein-behuisingsprojek (R110 miljoen oor drie jaar, waarvan R10 miljoen in 2022/23);
. Die uitbreiding van die Zandvliet-afvalwaterwerke (R185 miljoen in 2022/23 en R23,6 miljoen in 2023/24);
. Die uitbreiding van die Macassar-afvalwaterwerke (R12 miljoen in 2022/23, R642 miljoen oor drie jaar).
Van der Merwe sê die hele Kuilsrivier moet eintlik gemoderniseer word.
“Ons moet kyk na die moontlike vestiging van ’n stadsverbeteringsdistrik. Dis ’n baie lang proses, maar ons moet kyk of ons daarvoor kan kwalifiseer.”
Kuilsrivier het nie soos baie ander gebiede ’n sakekamer of forum nie.
Daar moet dus gepoog word om die sakegemeenskap bymekaar te bring, sê Van der Merwe.
“As jy Kuilsrivier wil moderniseer, het jy hulp van die besighede nodig.”
Van der Merwe sê dit gaan oor ’n vennootskap tussen die Stad (die raadslede en amptenare) en die gemeenskap.
“Dis hoekom dit belangrik is dat daar goeie verhoudinge tussen gemeenskapsorganisasies, sakelui en so meer is – met jou raadslede, maar ook wyer met die subrade.”
V Na bladsy 2





