Luthembe Mngxe, Christine Chilumba, Gabriella Salmoen, Tracy Mwanza en Alissa Minnie hol lekker.


Só iets het Brackies nog nie beleef nie toe honderde begeesterde ouers van die Laerskool Brackenfell die skool se grondslagfase-atletiekfees, wat die dorp se oudste skolesportbyeenkoms is, Vrydag op die Brack bygewoon het.

Dit was die heel eerste keer nog vir die ouers om hul graad R, graad 1 en graad 2-spruite op die sportveld in aksie te sien sedert hul skoolloopbaan begin en Covid-19 die afgelope twee jaar ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Só groot was die belangstelling dat Elfreda Olivier, hoof van die Laerskool Brackenfell se grondslagfase vir langer as 20 jaar, die aanvang van die byeenkoms moes vertraag sodat al die ouers ’n staanplekkie langs die baan kon kry.

Olivier, wat die byeenkoms geopen en die ouers verwelkom het, was oorstelp van dankbaarheid teenoor die ouers vir hul belangstelling en ondersteuning. “Dit is ’n hoendervleis-oomblik vir my,” het sy die ouers geprys voordat die leerders die atletiekbaan oorgeneem het.

In nog ’n hoendervleis-oomblik het klein Carla Visser die hoogtepunt van die dag opgelewer toe sy, met die hulp van haar juffrou, Carika Hanekom, aan die 50 m-wedloop vir meisies deelgeneem het. Carla ondervind sedert haar geboorte spierprobleme met haar voetjies en kan nie self hardloop nie. Die gesin wag op ’n opvolgoperasie wat binnekort sal plaasvind. Meer as 800 leerders in die ouderdomsgroep vyf tot nege jaar het man en muis aan die byeenkoms deelgeneem. Die byeenkoms is deur Novel Ford, Paarl en Ribbens Office National geborg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article