’n Gemeenskapsorganisasie van Delft sê hulle is dankbaar vir die personeel van ’n Taiwannese skakelkantoor wat onlangs hul projek besoek het.
Mariam Visagie van die Heart Community Angels-organisasie in Delft sê hulle word reeds ’n geruime tyd deur die Taiwannese ondersteun.
“Vir ons koskombuis gee hulle elke maand vyf sakke rys van 10 kg elk. Hulle help ook op ander maniere,” sê Visagie.
Verlede week het David Yintso Lin, die direkteur-generaal van die skakelkantoor, hul bejaardeprojek, waar bejaardes brei, besoek.
“Hulle het koffie, tee en suiker geskenk sodat die bejaardes darem ook iets warm het om te drink as hulle besig is. Ons waardeer die gebaar, want elke bietjie help om ons senior burgers besig te hou en so gerieflik as moontlik te maak,” sê Visagie.
Visagie sê Lin en sy verteenwoordigers het ook nie net die drinkgoed afgegee en geloop nie. “Hulle het sommer lustig tussen die bejaardes se handewerk rondgesnuffel en sommer van die produkte gekoop. Ons het dit baie waardeer,” sê Visagie.
Volgens haar het hulle ook onlangs goeie nuus oor die breiprojek ontvang. “Ons het gewoonlik in my motorhuis bymekaar gekom om te brei, maar gaan eersdaags na die Mandela Park-gemeenskapsaal trek. Daar kan die bejaardes op hul gemak wees,” sê sy.





