Polla Roux voor Bolandpark-woonstelle, waar hy einde Januarie ná 13 jaar as opsigter op die ouderdom van 80 afgetree het. FOTO’s: Nielen de klerk


Hy is al met potte en panne gegooi, moes die polisie bel nadat mense hul eie lewe geneem het en is etlike kere om middernag gebel om die een of ander probleem op te los.

Paul “Polla” Roux (80) het die afgelope 13 jaar tallose interessante interaksies en onderonsies met die huurders en eienaars van die Bolandpark-woonstelle, waar hy as opsigter gewerk het, gehad.

Hy kon einde Januarie, kort ná sy verjaarsdag, uiteindelik ophou om sy foon in die nag te antwoord.

“Ek dink ek is nou op aftree-ouderdom,” skerts hy.

Die gebou, wat al 52 jaar oud is, troon saam met sy buurman, die Eureka-aftreeoord, oor Durbanweg en hou ’n wakende oog oor die motors, voetgangers en openbare vervoer wat deur die jare af beweeg Voortrekkerweg toe of op beweeg Durbanville se kant toe.

Met sy 15 verdiepings, 93 woonstelle en sowat 250 inwoners, is dit maklik een van die hoogste woonstelblokke in Bellville.

Dit was nie Polla se plan om op 80 as ’n opsigter af te tree nie, maar toe ’n sakevennoot met sy onderneming se geld vort is en hy net met skuld gesit het, het hy geen keuse gehad nie.

“Ek het die laaste skuld twee maande gelede afbetaal,” sê hy.

Maar by Bolandpark het ’n hele nuwe wêreld oopgegaan. Hier was heeltyd mense, wat vir Polla altyd die hoogtepunt van die werk sal bly.

As opsigter moes hy toesien dat alles in die gebou vlot verloop, skoon is en dat dinge in gemeenskaplike gedeeltes in ’n werkende toestand is.

Maar tussendeur het hy al per ongeluk deel geraak van huishoudelike geweld en is hy met potte en panne gegooi. Hy het ook al met twee gevalle van selfdood gewerk en sê daar is intussen maatreëls aangebring om dit te verhoed. Daar was ook al iemand wat in een van die woonstelle doodgegaan het en eers ’n paar dae later gekry is.

Hy het die woonstelle eintlik al goed geken voordat hy daar begin werk het, omdat hy jare gelede sy seun gehelp het om koerante in die gebied af te laai – en sodoende het hy ongelooflike kennis van hoe die omgewing oor die afgelope paar jaar verander het.

Die inwoners het ook verander, sê hy. Aanvanklik kon hy ’n reël net een keer afkondig en mense het dit gevolg, maar nou moet hy dit oor en oor herhaal. Hy is dol daaroor om met die mense te werk, maar wil nou rus.

Sy werk, of dalk ’n groot deel van sy persoonlikheid, kan gemeet word aan die drie boeke in sy kantoor – een oor tuinmaak, een oor kosmaak en een wat nutsman-raad gee.

Hy hou van potjie maak, sê hy oor die kosmaakboek.

Pollain sy kantoor.

Die Bolandpark-woonstelblok, een van die hoogste woonstelblokke in Bellville.FOTO: Nielen de klerk

Polla Roux voor Bolandpark-woonstelle, waar hy einde Januarie ná 13 jaar as opsigter op die ouderdom van 80 afgetree het. FOTO’s: Nielen de klerk

By die woonstelblok was daar aanvanklik ’n tuin wat hy graag in stand gehou het, maar toe die gebied meer misdaad begin ervaar het, is ’n heining om die blok gebou en die tuin moes plek maak vir ’n parkeerterrein. Dit is juis die parkeerterrein wat dikwels die grootste hoofpyne opgelewer het, want daar is minder parkeerplek as wat daar woonstelle is. Daar was immers vroeër jare meer mense wat te voet of per bus beweeg het en daarom is die groter deel nie juis ingerig met oneindige veilige parkeerplek nie. Nou wil almal binne parkeer waar dit veilig is.

Een boek wat wel in sy kantoor afwesig is, is een oor rugby.

Polla het vroeër jare vir beide WP en Bellville uitgedraf.

Sy seun, ook Polla, het ook rugby gespeel en in Italië gaan afrig, waar hy sy vrou ontmoet het en nou permanent woon.

Polla sien uit om sy aftrede saam met sy vrou, Marlene (79), by hul huis in Boston te geniet.

Sy het ook eers relatief onlangs afgetree nadat sy jare lank as haarkapster by Chrismar Villas gewerk het.

Hulle het ook nog drie kinders, Francois, Pauline Roux-Townes en Lynette Coetzee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article