’n Eens sanderige, dor sypaadjie op die hoek van Frans Conradie-rylaan en Ferndalestraat is die afgelope naweek deur die Brackenfell Forum omskep in ’n tuin wat die koppe gaan laat draai.
Lede van dié forum, wat hulself daarop toespits om die dorp skoon en mooi te maak, het ’n verskeidenheid vetplante op die hoek van Ferndalestraat geplant.
Sowat 100 plante, wat aalwyne, woestynrose en vetplante uit die Draceana-familie insluit, is deur inwoners geskenk.
“Ons wil trots wees op ons woonbuurte en wil as stadsburgers ’n verskil maak deur betrokke te raak in ons omgewing,” sê Brenda Verheem, wat ook vise-voorsitter van die Fernpark-buurtwag is.
Nog ’n inwoner, Mandy Collins, wat ook ’n ywerige tuinier is, sê die tuin sal ná die winterreëns asemrowend mooi wees. “Dit is ’n wonderlike projek om deel van te wees en hef ook inwoners op. Om iets te maak van niks skep ’n gevoel van tevredenheid,” sê sy.
Marian Nieuwoudt, subraad 2-voorsitter wat ook kom help plant het, sê dis inspirerend om te sien hoe stadsburgers eienaarskap van hul omgewing neem.
“Die stad het eenvoudig net nie die geld om sypaadjies mooi te maak nie. Deur self die tuine aan te plant en in stand te hou, sal ook voorkom dat lang grasse die sypaadjies oorgroei,” sê sy.





