Bonteheuwel se gemeenskapswembad het ná meer as ’n jaar weer oopgemaak en na aanleiding van die opkoms op dag een, gaan daar heelwat pret wees tydens die somer.
Angus Mckenzie, plaaslike raadslid, het Vrydag die swembad amptelik geopen.
“Ons kinders het gesmag na hierdie gerief en gemeet aan hoeveel kinders vandag (Vrydag) opgedaag het, gaan hierdie ’n wonderlike swemseisoen wees,” sê Mckenzie, wat self nie geskroom het om ’n lafenissie in die water te soek nie.
Volgens Mckenzie is Bonteheuwel se swembad een van die skoonste en veiligste swembaddens in Kaapstad.
”Ek kan met lof praat van die amptenare wat onder geweldige druk was om die swembad gereed te kry vir die seisoen. Julle het julself goed van hul taak gekwyt en die gemeenskap se waardering is duidelik sigbaar,” sê Mckenzie.
Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die swembad verantwoordelik te gebruik.
“So baie openbare plekke word gevandaliseer en dan kla die gemeenskap by ons. Ek doen ’n beroep op inwoners van Bonteheuwel om eienaarskap van die swembad te neem en dit op te pas,” sê hy.
Hy spog ook daarmee dat nie eens beurtkrag ’n demper op die genot van die gemeenskap se watersport sal kan plaas nie.





