Sukses vir menigte nadat studentehuisaansoek in Bellville afgekeur is

Die woning by 44 Linkweg wat baie inwoners ontstel. ’n Aansoek om dit te ontwikkel is onlangs afgekeur.FOTO: Nielen de Klerk


Vir inwoners van De La Haye wat teen ’n beoogde ontwikkeling gekant is, is die stryd gewonne, maar die oorlog nog nie klaar nie.

Die studentebehuisingverskaffers My Student House se aansoek om Linkweg 44 te hersoneer sodat hulle dit kon ontwikkel sodat meer studente gemaklik daar kan leef, is in Desember verlede jaar afgekeur.

Die groep het egter intussen teen die besluit geappelleer.

Die voorgestelde ontwikkeling het verlede jaar baie inwoners warm onder die kraag gehad (“Plan ’n fout,” 25 Mei 2022).

Baie meen daar is nie genoeg plek vir nog studente in die area nie, dat dit ’n impak op die rioolstelsel gaan hê en hul eiendomswaardes gaan beïnvloed.

Die aanvanklike aansoek, wat lui die maatskappy wou 28 eenhede oor vyf verdiepings bou, met parkeerplekke vir 15 voertuie, was vir baie die doodskoot.

Toe TygerBurger die saak ondersoek het dit egter geblyk die verkeerde plan is deur ’n stadsbeplanner ingedien.

“Hierdie is flippen embarassing,” het Retha van Rooyen, hoof van My Student House, destyds aan TygerBurger gesê toe die publikasie die planne vir die ontwikkeling vir haar aanstuur.

Die regte aansoek is toe weer ingedien. Hierdie keer is was dit vir 10 wooneenhede en 10 parkeerplekke (in plaas van die 15 op die vorige plan).

Uiteindelik het meer as 50 mense beswaar daarteen aangeteken.

Die Stad se munisipale beplanningstribunaal het egter in Desember bekendgemaak die aansoek is afgekeur. Die Stad het onder meer gesê die hersonering is nie “kontekstueel gepas nie” en dat dit ’n negatiewe effek op omliggende eiendomme se privaatheid en welsyn gaan hê.

Voorgestelde parkering

Die voorgestelde parkering is ook ’n probleem omdat dit sou beteken die voertuie kan die besige Linkweg blokkeer.

Die Stad se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê hulle het die appèl ontvang. “Hierdie appèl gaan nou na enigiemand gestuur word wat ’n beswaar aangeteken het sodat hulle daarop kommentaar kan lewer,” sê hy.

’n Verslag sal daarna opgestel word en dan voor die Stad se appèlraad dien, waarna die burgemeerster die finale besluit sal neem.

My Student House, wat takke in Potch en Gqeberha het, is ’n bestuursagentskap wat al meer as 350 studente bedien.

Hulle bestuur al vier huise in Bellville, insluitende die eiendom lanks Linkweg 44, naamlik Linkweg 46. Daar is ook eiendomme in Parow.

Van Rooyen het destyds gesê die studente wat by hulle huur, kry staatshulp en besit meestal nie motors nie. Hierdie huise word meestal naby openbare vervoer beplan, sodat studente maklik by hul instellings kan kom.

Elke huis het ’n huismoeder wat help om die studente in toom te hou en indien daar klagtes oor geraas ontvang word, word ’n tugproses gevolg, sê sy.

“Ons maatskappy is ’n bestuursagentskap. Ons besit nie die huise nie; ons bestuur dit net.”

Sy sê hulle word deur eienaars van huise genader en sal dan die eienaars help om hul eiendomme suksesvol en wettig aan studente te verhuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article