Voormalige en huidige lede van die SAKK het Saterdag die bring-en-braai by die Blue Downs-sportterrein bygewoon. Die meeste lede woon tans reg oor die Skiereiland heen, maar van die lede het uit Pretoria en die Noord-Kaap gereis om die geselligheid by te woon, weer oud-soldate te ontmoet en hul lewens ná hul weermagdae te deel.

Credit: SYSTEM

Die beplanning vir die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps (SAKK) se herdenkingsgeleentheid in 2023 – wanneer die eenheid sy 60ste herdenking vier – verloop vlot en op Saterdag 24 September word ’n seekosaand by die Militêre-polisie in Wynberg gehou. Tot dusver is twee braaigesellighede by die Blue Downs-sportkompleks, wat deur sowat 80 lede bygewoon is, aangebied.

“Ons beplan nog ander gesellighede en dit word in twee groeperings verdeel, naamlik lekker bymekaarkomsessies waar gebraai en geskerts word, terwyl die ander geldinsamelings is. Die doel van laasgenoemde is eerstens om die bydrae van elke lid tot die herdenking so laag as moontlik te hou en andersyds om die kostes te help dek om die gesellighede aan te bied. Die bring en braai is hoofsaaklik om die militêre families te betrek en die geldinsamlingspogings is oop vir die publiek,” sê Raymond Africa, voorsitter van die herdenkingskomitee.

Die seekosaand kos R220 per persoon en sluit ’n driegang-maaltyd in.

“Twee verdere geldinsamelingspogings word vir die res van die jaar gehou. Op Vrydag 28 Oktober word ‘n ‘Down Memory Lane’-aand gehou met musiek, dans en gesellig samesyn, en op Vrydag 2 Desember word die tweede dans gehou. Die hoogtepunt sal volgens my die twee pretlope vroeg volgende jaar wees, wanneer die manne wat nog genoeg woema het, aan die 2,4-km-roete by 9 SAI-Bataljon in Eersterivier kan kom deelneem. Jy kan die roete stap, draf, kruip of rol, want agterna sal almal by die kroeg ontspan. Ons sal genoeg mediese personeel voorsien om na almal wat aan die roete gaan deelneem, se behoeftes om te sien,” belowe Africa.

Diegene wat nou nie aan die eerste pretloop deelneem nie, sal hul staal dan by die tweede moet kom wys. Dié datum sal later aangekondig word.

’n Versoek is aan die hoof van die leër, generaal James McConville, gerig vir die gebruik van 9 SAI-Bataljon, waar alle SAKK-lede hul diensplig ontvang en ook afgetree het.

“Ons beoog om dit ’n naweekviering te maak, met ’n herdenkingsparade die Vrydag en ‘n kranslegging die Sondag. Oud-lede sal ook help met projekte by die basis, maar ons wag vir goedkeuring uit Pretoria om dit alles te kan doen. Herdenkingskleredrag is beskikbaar en dit sluit in ’n baadjie met die embleem, das, pet en lapelwapens, wat deur almal aanvaar is. Ons het hiervan in voorraad en slegs stelle van 50 sal agterna aangeskaf en verkoop word. Die idee hiervan is om eenvormigheid aan te moedig wanneer lede gesellighede bywoon,” sê Africa.

Intussen is onderhandelinge vir borgskappe aan die gang en groot belangstelling heers onder die lede.

Nou word net op bestellings gewag.

Rig navrae aan Raymond Africa by 083 280 8323.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article