Pastoor Wesley Moodley, voorsitter van die Centre of Excellence in Bishop Lavis, help aspirant-studente om hul inligting op te laai om aansoek om ’n NSFAS-beurs te doen.


Dit is menige ouer se droom om sy kind universiteit of kollege toe te stuur om verder te studeer.

Die afgelope 18 maande het alles egter vir matrikulante in die lug gehang nadat die Covid-19-pandemie die wêreld getref het. Talle mense het geen hoop gehad dat hul kinders dalk verder kon studeer nie, want ouers of grootouers het hul werk verloor en selfs gesukkel om kos op die tafel te sit.

Wesley Moodley, bestuurder van die Centre of Excellence in Bishop Lavis, het verlede jaar – toe leerders weer skool toe kon gaan – besluit om voornemende studente te help om beurse te bekom om verder te gaan studeer.

“Ons het besluit om die beurs-hulp van stapel te stuur, want nie alle studente en gemeenskapslede het toegang tot die internet of kan hul dokumente oplaai soos verwag word as jy om ’n beurs van die Nasionale Studente Geldelike Hulpskema (NSFAS) van die Staat aansoek doen nie. Die hulpskema help nie-gegradeerde studente om vir hul tersiêre opvoeding te betaal nadat hulle skool verlaat het. NSFAS word deur die departement van hoër onderwys en opleiding gefinansier. Ander beurse wat ook deur die program bestuur word, sluit in die Funza Lushaka-onderwysbeurs, DHET-ongeskiktheidsbeurs en ander beurse van die sektor opvoeding en opleidingsorganisasies,” sê Moodley.

Matrikulante wag by die Centre of Excellence om hul dokumente op die rekenaar te laai saam met hul aansoeke om ’n NSFAS-beurs om verder te gaan studeer.

Tot dusver het sy organisasie meer as 1 000 studente gehelp – almal uit gebiede soos Ruyterwacht, Bishop Lavis, Bonteheuwel, Philippi, Mitchells Plain, Clarke-landgoed, Ravensmead, Elsiesrivier, Eersterivier, Uitsig, Lavender Hill en Suurbraak.

“Die aansoeke om beurse dek ’n wye veld, maar hoofsaaklik word aansoek gedoen om onderwys en aan TVET-kolleges in die onderskeie gemeenskappe te gaan studeer. Ons help die studente met die oplaai van hul dokumente, volg op of die instansies die aansoeke ontvang het en lei hulle deur die hele proses. Ons het tans studente wie se aansoeke onsuksesvol was en gaan hulle vandeesweek met die appèlproses help.

“Noudat skole weer normaal funksioneer, wil ek die matrieks aanraai om van Augustus/September om beurse aansoek te doen en nie net hul aansoeke tot TVET-kolleges te beperk nie, maar ook universiteite in te sluit. Beurse is ook op die webtuiste van die Universiteit van Wes-Kaapland beskikbaar om oorsee te gaan studeer en matrieks moet die geleenthede aangryp. Vandag is daar baie geleenthede vir ons kinders, en niks is onmoontlik nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article