’n Kontrakwerker van die Boston CID verf ’n koorsboom se bas om te keer dat dit gestroop word.


’n Man wat glo al voorheen weens dieselfde misdaad aangekeer is, is verlede week op heterdaad betrap waar hy in Boston ’n kanferboom van sy bas stroop.

Die voorval het plaasgevind tydens ’n reuseprojek van die Boston-stadsverbeteringsdistrik (Boston CID) om sekere bome se bas te verf sodat misdadigers dit nie meer teiken nie.

Die stroop van bas kan daartoe lei dat bome doodgaan of tot so ’n mate verswak dat hulle makliker siektes kry, verduidelik Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid.

Jean Beukman, uitvoerende hoof van die CID, sê hulle is verlede week net voor 14:00 deur ’n inwoner gebel oor die man wat in 13de Laan ’n boom se bas verwyder.

Die man, wat voorheen deur die CID se beamptes self betrap is en polisiekantoor toe geneem is, was dronk.

Hy het al voorheen aan CID-lede erken hy woon in Khayelitsha en verkoop ’n sak bas vir R300 aan ’n tradisionele geneser vir “medisinale” gebruik. Die bas word ook soms om kulturele redes gebruik.

Basstroping in die gebied is aan die toeneem en het veral die afgelope drie maande die hoogte in geskiet, sê Beukman.

Daarom het hulle, soos wat daar reeds in ander plekke soos in Durbanville gedoen word, bome wat maklik kan deurloop met verdunde verf versier, sodat dit minder aanloklik is.

Stropers teiken veral kanferbome (Cinnamomum camphora), koorsbome (Vachellia xanthophloea) en Norfolk dennebome (Araucaria columnaris).

Hierdie man is verlede week betrap dat hy boombas stroop.

’n Gestroopte boom in Boston.

’n Kontrakwerker van die Boston CID verf ’n koorsboom se bas om te keer dat dit gestroop word.

Van der Ross sê basstroping is ’n oortreding van die Stad se munisipale ordonnansies en dat hulle oortreders aan die owerhede sal oorhandig.

“Enige gemeenskapslid wat boomvergifting of -stroping sien, kan dit aanmeld by 107 (vanaf ’n landlyn) of 021 480 7700 (van ’n selfoon) en foto’s en ander logistieke inligting aan die Stad verskaf per e-pos na RP.Enquiries@capetown.gov.za te stuur. Rig navrae aan arborist@capetown.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article