Straatname in Brackenfell is weer eens verlede week verkeerd geverf, en inwoners in Ferndale is beduiweld oor dié vermorsing van belastinggeld.
Met die oorverf van die verbleikte straatname in Februarie het kontrakteurs van die Stad Kaapstad ses straatname verkeerd op die buurt se randstene geverf.
Loubserstraat het Lobserstaat geword, en Fennelsingel, Fennelstraat. Ook Kinkelstraat het verander na Kinkelweg, en die een kant van Eben Olivier is nou John Gainsfordstreet. Ook Ferndalestraat het verander na Ferndale-rylaan en die bekende Frans Conradie-rylaan na Frans Conradiestraat.
“Ons vra al vir jare dat die verbleikte straatname oorgeverf word en was verheug toe die kontrakteurs opdaag. Maar groot was ons verbasing toe ons die volgende oggend wakker word en ons nuwe straatname sien,” het ‘n inwoner, Alet van Rooyen, verlede maand aan TygerBurger gesê.
“Maar nog meer frustrerend, sê sy, is dat belastingbetalers nou dubbel moet opdok om dit reg te maak.”
Uitdagings met kontrakeurs
By navraag het Rob Quintas, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer verlede maand, gesê die Stad was bewus van die foute wat met die straatname gemaak is, en het die kontrakteurs versoek om die foute reg te maak.
“Ons het ‘n paar uitdagings met ‘n nuwe kontrakteur ondervind en vra om verskoning vir enige ongerief. Ons padinfrastruktuurbestuurspan sal die werk noukeurig monitor en gehaltebeheer verbeter,” het hy verlede maand aan TygerBurger gesê.
Maar die verassing was groot toe inwoners verlede week oplet dat die verkeerde John Gainsfordstraat toegeverf en toe wéér oorgeverf is as … John Gainsford, en dat Eben Olivierstraat nou in die niet verdwyn het. Inwoners wonder nou wat van Quintas se gehaltebeheer geword het.
“Hierdie is nou ‘n illustrasie van hoe die belastingbetaler van die Stad se geld spandeer word. Bogenoemde straat is Eben Olivier, maar ná die eerste oorverf van straatname is dit John Gainsford. Hoewel die fout aangemeld is, is dit wéér oorgeverf as John Gainsford. Waarheen het Eben Olivierstraat verskuif?” vra ‘n ander ontstelde inwoner oor die straatnaam, wat nou vir ‘n derde keer geverf sal moet word.
Dié ontstelde inwoner meen belastingbetalers in Kaapstad betaal duur vir dienste. “Is daar `n klousule ingevoeg in die diensverskaffers se ooreenkomste dat die herstel van sulke elementêre foute vir hul eie rekening sal wees?” vra sy. “En moenie probeer om die argument te opper dat die Stad Kaapstad of Wes-Kaap waar die DA regeer, in ‘n baie beter toestand is wat instandhouding betref nie.”
Quintas se kantoor het teen druktyd nog nie gereageer op ‘n verdere medianavraag na die Stad oor die aangeleentheid nie.





